|

AfriForum wil sakeman vervolg wat kleindogter verkrag

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, gaan ’n gerespekteerde sakeman in die finansiële bedryf wat na bewering sy driejarige kleindogter verkrag het, privaat vervolg.

Die slagoffer is glo haar grootouers se huis verkrag. Sy het die verkragting en aanranding aan haar ma en pa meegedeel en ’n sielkundige het ook die seksuele aanranding in ’n psigo-regsassessering bevestig. Die slagoffer het ook haar oupa as die oortreder aan haar onderwyser geïdentifiseer.

Nel het vandag op ’n mediakonferensie gesê dat privaatvervolging ingestel word omdat die strafregstelsel die slagoffer in die steek gelaat het.

Hy sê hy en sy span was stomgeslaan toe die klaer sy kantoor die eerste keer genader het en van die feite ingelig het. “Ons was uit die veld geslaan dat die polisie nagelaat het om verklarings by die belangrikste onafhanklike getuies af te neem: dit wil sê die onderwyser en die sielkundige. Ons is ook stomgeslaan dat speurders geen stappe gedoen het om selfoongetuienis in die hande te kry nie. Inteendeel, die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het die dossier ná ’n maand gesluit,” sê Nel.

Volgens Nel is beide die onderwyser en sielkundige deur die beskuldigde se seun gedreig. “Die beskuldigde se seun het die slagoffer ook na ’n ander sielkundige verwys vir ’n tweede evaluering, waarna hy die slagoffer se ma van verkragting beskuldig het.”

Hy het bygevoeg dat die beskuldigde se seun tans finansieel afhanklik van sy pa is.

Nel en sy span het dr. Gerard Labuschagne, ’n forensiese sielkundige, geraadpleeg om die tweede verslag te ondersoek. Labuschagne het sterk kritiek teen bykans alles in die tweede verslag gelewer en daarop aangedring dat daar ’n klag by die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (HPCSA) teen diegene wat die verslag opgestel het, gemaak word.

Die burgerregte-organisasie het ook briewe aan die SAPD geskryf en hulle gesmeek om die verklarings af te neem. Die organisasie het die polisiebeampte se gedrag ook by sy bevelvoerders en polisiebestuur aangemeld. Ondanks dié briewe het die polisie hardnekkig geweier om die verklarings af te neem. AfriForum se privaatvervolgingseenheid het die verklarings self van die getuies verkry.

Nel is ook van mening dat die profiel van die beskuldigde die saak tot dusver beïnvloed het. “Die NVG het ’n besluit geneem sonder om te verseker dat ’n behoorlike ondersoek gedoen is. Die vervolgers wat ek ken, sal vervolg as hulle met hierdie twee getuies konsulteer. As dié saak die aandag geniet het wat dit verdien, sou die vervolging van die aangeklaagde hoegenaamd geen probleem gewees het nie en sou die saak nou gefinaliseer gewees het,” meen hy.

“Ondanks die bewyse teen die beskuldigde wat bestaan, het die regstelsel die slagoffer in die steek gelaat. Dis nou al twee jaar later; die slagoffer het beperkte toegang tot haar ma en die NVG het besluit om nie te vervolg nie,” sê Nel.

“Soos ons nou hier sit, het die aangeklaagde onbelemmerde toegang tot die slagoffer. Hy het haar selfs onlangs saam met hom met vakansie geneem. Dit is onaanvaarbaar.”

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê dat weersinwekkende mense wat weerlose kinders seksueel misbruik swaar gestraf moet word. “Seksuele mishandeling is ’n kanker en alle gemeenskappe moet hierdie tipe optrede sterk veroordeel.”

Hy het ook terugvoer oor die privaatvervolgingseenheid se ander sake gegee.

“AfriForum word dikwels daarvan beskuldig dat ons mense selektief vervolg. Ons wil dit vandag egter duidelik maak dat ons enige persoon, ongeag ras of geslag sal vervolg sonder vrees, guns of vooroordeel.”

Soortgelyke plasings