--> -->
Spyskaart +

AfriForum wil misdaad in Worcester help bekamp

Mei 30, 2014 deur Esmarie Prinsloo

AfriForum het verskeie versoeke en klagtes van bekommerde inwoners van Worcester ontvang oor die toename van misdaad, veral diefstal en huisbraak, in dié dorp. Die burgerregte-organisasie is nou van voorneme om ʼn tak in Worcester te stig om onder meer die misdaadprobleem aan te pak.

“Die gemeenskap is raadop. Misdaad raak almal, en die SAPD kan nie alleen misdaad bekamp nie, lede van die gemeenskap moet saamstaan om Worcester te beveilig. Hoe meer lede ons in Worcester het, hoe meer kan AfriForum doen,” het Stefan Pretorius, AfriForum se provinsiale koördineerder vir die Wes-Kaap gesê.

AfriForum staan gemeenskappe regoor die land by met die stigting van buurtwagte, die ondersteuning van bestaande buurtwagte, organisering van patrollies en die verskaffing van toerusting. Die organisasie het ʼn afdeling wat spesifiek op gemeenskapsveiligheid fokus en wat met kennis en kapasiteit doeltreffende veiligheidsnetwerke vestig.

“Ons het die afgelope maand begin om veiligheidstrukture in Wes-Kaapse dorpe te stig. Ons het vroeër vandeesmaand ʼn gholfkar aan die Uilenkraalsmond-buurtwag geskenk om hulle vermoëns in die stryd teen misdaad te versterk,” het Pretorius gesê.

Sluit aan by AfriForum. SMS “Worcester” na 45265. R1/SMS.