AfriForum wil Haatspraakwetsontwerp in parlement teenstaan

 

AfriForum het vandag tydens ’n konferensie aangekondig dat die burgerregte-organisasie ’n skriftelike betoog by die departement van justisie en grondwetlike ontwikkeling ingedien het teen die Wetsontwerp op die Voorkoming en Bestryding van Haatmisdade en -spraak (die Haatspraakwetsontwerp). AfriForum het ook ’n veldtog vir openbare deelname van stapel gestuur om ʼn standpunt teen die wetsontwerp in te neem en om die organisasie toe te laat om ’n verbale betoog aan die parlement te gee rondom vryheid van spraak, haatspraak en rassisme. Vir hierdie doel word die publiek aangemoedig om die petisie by www.haatspraak.co.za te teken.

AfriForum se besware teen die wetsontwerp soos opgestel deur adv. Mark Oppenheimer, kenner in vryheid van spraak, sluit in dat die taal in die wetsontwerp aansienlik van dié in die Grondwet verskil. Die grondwetlike standaard vir haatspraak is dié van vryheid van spraak wat nie lei tot die voorstaan van haat wat op ras, etnisiteit, geslag of geloof gebaseer is nie, en wat nie aanhitsing behels om leed aan te doen nie.

Volgens die wetsontwerp is die blote verspreiding van haat of leed egter genoeg vir uitsprake om as haatspraak geag te word. ’n Ander probleem is dat “leed” in die wetsontwerp gedefinieer word met emosionele leed en sosiale leed daarby ingesluit. Verder is die gronde waarop haatspraak gepleeg kan word volgens die wetsontwerp te verreikend en sluit dit byvoorbeeld ouderdom in. Die gevolg is wanneer iemand gebaseer op ouderdom gespot word (soos om iemand ’n “ouballie” te noem) op ’n strafregtelike oortreding kan neerkom en met drie jaar tronkstraf gepaard kan gaan.

AfriForum se mening is dat spraak slegs haatspraak kan wees indien dit ’n direkte oproep op aksie teen ’n persoon of groep persone is, wat op die vier gronde soos in die Grondwet vervat, (ras, etnisiteit, geslag en geloof) gebaseer is.

Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, sê dat AfriForum verbind is tot die beginsel van vryheid van spraak en dat die organisasie ook ten gunste van wetgewing rondom haatspraak in die Suid-Afrikaanse konteks is. “Die uitdaging is egter om ’n gesonde balans tussen die aanmoediging van vryheid van spraak en die bevegting van haatspraak te vind. Ons glo dat dié wetsontwerp klaaglik hierin sal misluk, omdat dit voorstel dat blote beledigende spraak as haatspraak geag moet word. Hierdie is ’n skending van die beginsel van vryheid van spraak.”

AfriForum is van voorneme om ’n verbale aanbieding aan die parlement te doen oor die huidige stand van rassisme in Suid-Afrika en die verantwoordelike wyse om met haatspraak te werk te gaan terwyl die reg tot vryheid van spraak beskerm word.

Soortgelyke plasings