|

AfriForum werk hard om vleilande te probeer red

 

Meer as 60% van Suid-Afrika se vleilande is onherstelbaar vernietig of gaan agteruit weens erosie, besoedeling, brande en veral landbou-aktiwiteite.

Hoewel sowat 23 vleilande in Suid-Afrika sedert 1975 onder die Ramsar-konvensie vir vleilande van internasionale belang, beskerm word, is baie van hierdie areas egter swak bestuur en min inligting is oor hul akwatiese biodiversiteit beskikbaar.

Dr. Alanna Rebelo, ’n vleiland-ekoloog en senior navorser verbonde aan die departement bewaringsekologie en entomologie aan die Universiteit Stellenbosch (US), het vroeër in die media gesê die beskerming en herstel van vleilande behoort ’n nasionale prioriteit te wees. Haar navorsing fokus op die Theewaterskloof- en Goukou-vleilande in die Wes-Kaap sowel as die Kromme-vleiland in die Oos-Kaap.

Rebelo meen vleilande word as een van die rykste ekostelsels beskou in terme van die ekosisteemdienste wat hulle bied. Volgens haar maak hulle oorstromings minder gevaarlik, verminder waterbesoedeling, hou sediment terug, bied skoon water en kos vir plaaslike gemeenskappe en absorbeer en berg atmosferiese koolstofdioksied. Vleilande het ook waardevolle ondergrondse veengrond en die vernietiging daarvan sal tot aardverwarming bydra.

Volgens Rebelo kan die land se vleilande teen 2065 heeltemal opgedroog wees indien drastiese stappe nie gedoen word om dit te herstel nie.

Die burgerregtewaghond AfriForum ondersteun ook die bewaring van vleilande om sodoende te verseker dat die noodsaaklike ekostelsels optimaal funksioneer. Daarom hou die organisasie jaarliks ’n skoonmaakaksie by die Moreletapark-natuurreservaat ter viering Wêreldvleilanddag wat op 2 Februarie gevier word.

“Dit is baie belangrik om vleilande te bewaar aangesien dit die reënwater absorbeer en weer stadig deur die jaar vrystel. As vleilande nie daar is nie, spoel dié afloopwater onmiddellik weg. Vleilande is ongelooflik belangrik omdat dit natuurlike filtreerders is,” sê Lambert de Klerk, bestuurder vir omgewingsake by AfriForum.

AfriForum gaan vanjaar nog vleilande regoor die land identifiseer wat skoongemaak gaan word en die burgerregte-organisasie sal ook gemeenskappe bystaan wat vleilande wil skoonmaak en herstel.

Soortgelyke plasings