AfriForum waarsku teen rampspoedige gevolge van onteiening sonder vergoeding by VN


Die burgerregte-organisasie AfriForum woon vandag en môre die elfde sitting van die VN se Forum vir Minderheidsaangeleenthede in Genève, Switserland by om steun te werf teen die regering se planne vir onteiening sonder vergoeding. Hierdie stap is deel van die organisasie se verskerpte internasionale veldtog om druk teen onteiening sonder vergoeding te mobiliseer.
Volgens Alana Bailey, wat die VN-byeenkoms in haar hoedanigheid as adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum verantwoordelik vir internasionale skakeling bywoon, is dié organisasie se regspan besig met optrede om die grondwetwysigingsproses te stuit, maar internasionale druk is noodsaaklik om te verhoed dat die proses tog mettertyd deurgevoer word.
Die tema van vanjaar se byeenkoms van die Forum vir Minderheidsaangeleenthede is staatloosheid. Die VN noem dat dit ’n menseregte-saak is wat minderhede regoor die wêreld buitengewoon fel raak.

Bailey beklemtoon dat AfriForum nie ’n verantwoordelike program van grondhervorming teenstaan nie. “Wanneer egter van die beginsel van gewillige verkoper, gewillige koper afgesien word, soos wat nou voorgestel word, kan dit net tot nadeel van alle inwoners van die land wees,” verduidelik sy.
“Minderhede in Suid-Afrika word tans die sondebok gemaak om die regering se onvermoë om grondhervorming behoorlik uit te voer, te verdoesel. In ’n amptelike verslag oor grondhervorming, uitgereik onder leiding van oud-president Kgalema Motlanthe, word erken dat nóg wit grondeienaars, nóg die Grondwet die rede vir die staat se mislukte grondhervormingsprogram is – dit is onder meer deur korrupsie en die staat se onbevoegdheid teweeggebring. Tog dui verskeie uitsprake van senior regeringsverteenwoordigers aan dat die voorgestelde onteieningsproses wit grondeienaars sal teiken. Hulle loop dus die gevaar om ʼn staatlose minderheid te word,” sê Bailey. “Hulle staar reeds groeiende druk teen hulle grondwetlik erkende kulturele regte, insluitend taal- en onderwysregte, in die gesig.”

Volgens Bailey is die risiko nie tot hierdie gemeenskap beperk nie. Elders het soortgelyke ideologies-gedrewe onteieningsprojekte tot die dramatiese groei van die wêreld se staatlose bevolking aanleiding gegee, onder meer deur die skep van groot getalle politieke en ekonomiese vlugtelinge. Hulle was ook nie net tot een groep beperk nie – alle burgers van die betrokke lande is benadeel. AfriForum is oortuig daarvan dat alle Suid-Afrikaners ’n duister toekoms tegemoet gaan indien die proses van onteiening sonder vergoeding deurgevoer word.

“Skade is reeds aangerig. Internasionale beleggers word deur die beleidsonsekerheid oor eiendomsregte in die land afgeskrik. Eiendomspryse daal en boere is huiwerig om infrastruktuur op plase te ontwikkel, wat ’n negatiewe invloed op voedselsekuriteit het. Kredietgraderingsinstellings soos Moody’s, finansiële inrigtings (insluitend die Internasionale Monetêre Fonds), meningsvormers en finansiële deskundiges het almal al kommer, gesteun deur betroubare navorsingsresultate bekendgemaak. Tog skrik dit die ANC-regering nog nie van sy selfvernietigende voornemens af nie. Dit is die verantwoordelikheid van die burgerlike samelewing om alles moontlik te doen om te verhoed dat Suid-Afrikaanse minderhede op groot skaal deel van die wêreld se staatlose bevolking word,” sê Bailey.

Soortgelyke plasings