|

AfriForum waarsku die DWS oor waterlekkasies

AfriForum het Lindiwe Sisulu, Minister van Water en Sanitasie, vandag in ’n skrywe gewaarsku oor die grootskaalse probleem wat waterlekkasies in die land kan veroorsaak. Die organisasie het die Departement van Water en Sanitasie (DWS) ook versoek om ’n taakspan aan te stel wat daarop fokus om waterlekkasies landwyd te herstel.

Die organisasie het hierdie brief geskryf aangesien baie damvlakke laag is – soos die Vaaldam wat slegs 37,5% vol is en water aan ’n groot deel van Gauteng voorsien – en die land kan daarom juis nie water verloor weens lekkasies nie.

AfriForum het daarom ’n platform op die organisasie se webtuiste geskep waar gemeenskapslede waterlekkasies kan aanmeld wat dan aan die Departement deurgegee sal word sodat hulle verantwoordelik gehou kan word om dit te herstel. Sowat 40% van munisipaliteite se drinkwater gaan daagliks verlore weens waterlekkasies.

“Die Vaaldam word uitgesonder aangesien die dam aan ’n groot deel van die land se bevolking water voorsien, maar daar is heelwat ander munisipaliteite wat naby aan Dag Zero is,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder vir Omgewingsake.

Volgens De Klerk het die Departement groot uitdagings wat uit die weg geruim moet word en is watersekerheid in die land grotendeels in gedrang aangesien die nodige instandhouding nie gedoen word nie, asook weens korrupsie binne die Departement.

Besoek AfriForum se webtuiste om waterlekkasies in jóú dorp aan te meld.

.

Soortgelyke plasings