|

AfriForum waarsku dat rommelstatus op implementering van NGV gaan volg

AfriForum het vandag in ’n brief aan president Cyril Ramaphosa, minister van finansies Tito Mboweni en minister van gesondheid Zweli Mkhize gestuur waarin die burgerregteorganisasie waarsku dat die inwerkingstelling van nasionale gesondheidsversekering (NGV) uiteindelik tot die afgradering van die land se kredietgradering tot rommelstatus kan lei.

Dít volg nadat die kredietgraderingsagentskap Moody’s Suid-Afrika se kredietgradering onlangs van ’n stabiele na ’n negatiewe vooruitsig afgegradeer het. Die rede vir dié afgradering is volgens Moody’s somber groeivooruitsigte en groeiende openbare skuld. In sy brief voer AfriForum aan dat onbekostigbare, ideologiese beleide soos die NGV daartoe gaan lei dat Suid-Afrika na rommelstatus afgegradeer sal word, aangesien die land dit eenvoudig nie kan befonds nie.

“Om met die inwerkingstelling van die NGV voort te stu, sal nie net rampspoedig vir die Suid-Afrikaanse ekonomie wees nie; dit sal ook staatskuld opblaas tot vlakke wat dit onmoontlik sal maak om die afgradering na rommelstatus in die voorsienbare toekoms vry te spring,” sê Natasha Venter, AfriForum se woordvoerder vir die NGV.

Volgens AfriForum se verslag oor die NGV gaan hierdie plan die land R446,8 miljard per jaar uit die sak jaag. Die totale inkomste van inkomstebelastinginvorderings (die land se hoofbron van inkomste en hoofbron van finansiering vir die NGV) het in 2017 net meer as R425 miljard beloop, wat dit duidelik maak dat die NGV onbekostigbaar en onvolhoubaar gaan wees.

Volgens Venter veroorsaak hoë werkloosheid en armoede, ’n klein belastingbasis en die swak prestasie van die openbare gesondheidsorgbedryf dat ’n regeringsbefondsde stelsel wat “gratis gesondheidsorg vir almal” beloof nie vir Suid-Afrika geskik is nie.

“NGV se ideologiese doel is om mense toegang tot gesondheidsorg te gee. Die afgradering tot rommelstatus (waartoe die implementering van die NGV kan lei) sal trouens mense se kanse op ekonomiese sukses ondermyn deur salarisse te verminder of tot verdere werksverliese te lei. In kort het die inwerkingstelling van die NGV die potensiaal om die land se reeds swak ekonomie totaal te verwoes. AfriForum doen daarom ’n beroep op die president, sowel as die finansies- en gesondheidsminister om die inwerkingstelling van die NGV ernstig te heroorweeg,” sluit Venter af.

Klik hier vir die brief.

Soortgelyke plasings