|

AfriForum-vullisterreinouditprojek fokus vanjaar op oplossings

Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag sy nasionale vullisterreinouditprojek by die Hatherley-vullisterrein in Mamelodi van stapel gestuur. Hierdie vullisterrein het in 2016 volgens AfriForum se jaarlikse vullisterreinouditverslag aan slegs 36% van die minimum vereistes voldoen, maar verlede jaar, ná AfriForum se volgehoue druk op die munisipaliteit, ’n handomkeer prestasie van 80% behaal.

“AfriForum sal vanjaar weer eens landwyd vullisterreinoudits doen. Dié oudits word gedoen aan die hand van die minimum vereistes waaraan ’n vullisterrein volgens wetgewing moet voldoen. Die organisasie gaan poog om 120 vullisterreine in die volgende vier weke te oudit in dié gebiede waar gevestigde AfriForum-takke geleë is. Die uitslae gaan dan in ’n verslag opgeneem en saam met voorstelle vir verbetering aan die departement van omgewingsake oorhandig word,” sê Chris Boshoff, koördineerder van omgewingsake by AfriForum.

Die burgerregtewaghond gaan verder na afloop van die projek in samewerking met ’n afval-tot-energie-maatskappy ’n alternatiewe plan vir vullisterreine in Suid-Afrika bekend stel. Soortgelyke projekte is uiters suksesvol in lande soos Swede en China.

Soortgelyke plasings