AfriForum in VSA ter bewusmaking van onteiening sonder vergoeding en plaasmoorde


Afgevaardigdes van AfriForum het vandeesweek na die Verenigde State van Amerika (VSA) gevlieg as deel van die burgerregte-organisasie se veldtog om steun in die buiteland te werf asook bewusmaking rakende grondonteiening sonder vergoeding en die prioritisering van plaasmoorde te bevorder. Onder die afgevaardigdes is Ernst Roets, AfriForum se adjunk- uitvoerende hoof, Marina Wiese, AfriForum se kommunikasiebestuurder en Mariandra Heunis, self ’n slagoffer van ’n plaasaanval wat ander slagoffers verteenwoordig.

“Hierdie veldtog is veral belangrik in lig van president Cyril Ramaphosa se onlangse uitlatings in die VSA wat die werklikheid van plaasmoorde en grondgrype ontken het. AfriForum se toer bestaan uit ’n reeks afsprake wat verlede jaar se bewusmakingstoer opvolg. Ons gaan onder meer navorsings- en mediainstellings, politici en ander belangstellendes in Washington en New York besoek,” sê Roets.

Die VSA se ooreenkoms met Suid-Afrika ingevolge die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (Agoa) is ook ’n punt van belang. AfriForum is ten gunste van hierdie ooreenkoms en beskou dit as voordelig vir Suid-Afrika. Die burgerregte-organisasie is dus nie in die VSA om mense aan te moedig om uit die ooreenkoms te onttrek nie, maar eerder om voorkomend op te tree om só ’n krisis te verhoed. “Daarom gaan AfriForum alles in ons vermoë doen om te verseker dat Suid-Afrika die bepalings van Agoa, soos die beskerming van privaat eiendomsreg, nakom,” voeg Roets by.
Sprake van onteiening sonder vergoeding deur die Suid-Afrikaanse regering het president Donald Trump egter genoop om sy minister van buitelandse sake, Mike Pompeo, te vra om grond- en plaasgrype, onteiening, asook die grootskaalse moord op boere te moniteer. AfriForum is bekommerd dat indien die Suid-Afrikaanse regering voortgaan met sy plan om eiendom sonder vergoeding te onteien, dit die Agoa-ooreenkoms sal skend. Dít hou die gevaar in dat Suid-Afrika by hierdie ooreenkoms uitgesluit sal word. As die Suid-Afrikaanse regering eiendomsreg skend, is die Amerikaanse president kragtens dié land se wetgewing verplig om Suid-Afrika se voordele ingevolge Agoa op te hef. Dit sal geweldige nadelige gevolge vir die Suid-Afrikaanse ekonomie inhou.

“AfriForum verwag nie van die VSA om Suid-Afrika se probleme namens ons op te los nie, maar beoog wel om steun te werf en buitelandse meningsvormers te kry om in die openbaar standpunt in te neem teen ongeregtighede wat tans in Suid-Afrika plaasvind om sodoende druk op die Suid-Afrikaanse regering toe te pas,” sluit Roets af.

AfriForum sal deurlopend terugvoer gee oor die vordering van die toer. Buitelanders wat AfriForum wil steun, kan by www.friendsofafriforum.com/ aansluit.
Vir meer inligting besoek gerus www.afriforum.co.za/afriforum-jou-stem-die-buiteland/.

Soortgelyke plasings