|

AfriForum vra nuwe OB om jeugliga-president oor moontlike Gupta-bande te ondersoek

Die burgerregte-organisasie het adv. Busisiwe Mkhwebane, wat vandag met haar termyn as Openbare Beskermer (OB) begin het, versoek om Collen Maine, omstrede president van die ANC-jeugliga, se moontlike bande met die Guptas te ondersoek.

Dit kom nadat dit aan die lig gekom het dat Maine in 2015 glo hulp van die Guptas gekry het om ’n spogwoning ter waarde van meer as R5 miljoen in die gesogte Woodhill-landgoed te koop. Die lening vir die huis is volgens inligting deur die Bank of India toegestaan wat normaalweg nie huislenings toestaan nie.

Dit is nie die eerste keer dat daar vrae oor Maine se verbintenis met die Guptas is nie. Maine is ’n getroue en lojale ondersteuner van pres. Jacob Zuma. Hy het die naweek by ’n Hands Off Zuma-protesoptog in Durban gepraat waar hy ’n beroep op MK-veterane gedoen het om hulself te bewapen om Zuma te beskerm.
Sy uitlatings het daartoe gelei dat die DA en Cope strafregtelike klagtes teen hom wil indien oor aanhitsing van geweld. Die DA het ook die Menseregtekommissie (MRK) vroeër versoek om Maine se uitlatings van aanhitsing tot geweld te ondersoek.

Henk Maree, nasionale woordvoerder van AfriForum, het gesê die OB moet die wetlikheid van prosesse ondersoek wat gevolg is in Maine se verkryging van sy eiendom. Sy moet ook vasstel waarom die Bank of India die lening toegestaan het, terwyl die bank dit normaalweg nie doen nie.
Maree versoek ook ’n ondersoek na Maine se geldsake gegewe die feit dat die huisverband sowat R140 000 per maand beloop en hy glo net tussen R30 000 en R50 000 per maand verdien.

Maree het gesê dit is in landsbelang dat die ondersoek na staatskaping deur die Guptas so spoedig moontlik afgehandel word. Hy het gesê alle oë is nou op Mkhwebane om te sien of sy die kwessie met dieselfde erns as haar voorganger, adv. Thuli Madonsela, gaan hanteer.
“As daar enige waarheid is in aanduidings dat Maine ook bande met die omstrede Guptas het of gehad het, moet dit deel van die OB se ondersoek uitmaak,” het hy gesê.

Die ondersoek na staatskaping het onlangs ’n wending geneem met Zuma en Des van Rooyen, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, wat ’n hofbevel probeer verkry het om te voorkom dat die verslag openbaar gemaak word.

Madonsela sou Vrydag op haar laaste dag die verslag bekendmaak waarin Zuma na bewering geïmpliseer word.

Musi Maimane, leier van die DA, het gesê die party gaan op 1 November ’n hofaansoek bring sodat die verslag onmiddellik uitgereik en gepubliseer mag word.

Soortgelyke plasings