|

AfriForum voorsien water aan Waverley-gemeenskap

AfriForum se Oos-Moot-tak en -buurtwag het op 10 November 2019 water aan die inwoners van die Waverley-omgewing voorsien. Dít volg nadat inwoners twee dae lank sonder water moes klaarkom en die AfriForum-tak om hulp genader het.

Die oorsprong van die probleem is nog nie vasgestel nie. Die vermoede bestaan dat die watertoevoer foutief aan die verkeerde gebied geallokeer is, wat die reservoir gevolglik laat leegloop het.

Volgens Gideon van Deventer, voorsitter van AfriForum se Oos-Moot-tak, sal hulle die gemeenskap bystaan en voortgaan om water te voorsien.

“Ons het groot waterkanne vir die tak aangekoop om water na inwoners te vervoer – veral aan die wat nie boorgate het nie.”

Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria, stel die tak ’n goeie voorbeeld van hoe die gemeenskap mekaar in tye van nood kan bystaan.

“Dit is goed om te sien hoe AfriForum-takke die kapasiteit skep om mekaar te ondersteun.”

AfriForum moedig ook die gemeenskap aan om by die projek betrokke te raak. “Ons vra dat almal met toegang tot boorgate ons asseblief in kennis stel sodat ons mense sonder enige toegang tot water kan help. Ons sal saamstaan sodat hierdie probleem ons nie onderkry nie,” sluit Van Deventer af.

Sluit vandag nog by AfriForum se Oos-Moot-tak aan en maak ’n verskil: Stuur ’n e-pos na oosmoottakaf@gmail.com.

Soortgelyke plasings