|

AfriForum volstoom aan die gang met 10 Dae van Selfstandigheid

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

Die burgerregte-waghond AfriForum is vandag vir die 6de dag suksesvol besig met sy 10 Dae van Selfstandigheid-veldtog, waarby  selfdoen-projekte in verskeie gemeenskappe regoor die land plaasvind.

Tydens die veldtog word meer as 100 selfdoen-projekte aangepak wat fokus op die herstel van slaggate, die skoonmaak van vullisterreine, begraafplase en strate, die herstel van straatligte en die behandeling en skoonmaak van besoedelde riviere.

Van die projekte wat sedert Vrydag aangepak is sluit in:

  • Om die vervalle Driehoek Spar-sentrum in die middestad van Springs te sloop, nadat die Ekurhuleni-metroraad ʼn hooggeregshofbevel verontagsaam het. “Hierdie selfhelp-inisiatief is ʼn duidelike teken dat die gemeenskap van Springs keelvol is vir die verval en agteruitgang van ons dorp,” het Gert Parsons, voorsitter van die AfriForum-tak in Springs, gesê.
  • R30 000 is in Hartebeespoort bestee om straatligte in die dorp te herstel. Marcus Pawson, AfriForum se provinsiale koördineerder vir Noordwes, sê dat donker strate ʼn veiligheidsrisiko vir alle inwoners inhou omdat hulle ruimte skep vir misdaad. “Die Madibeng Plaaslike Munisipaliteit versuim al jare lank om die straatligte reg te maak, en ons sal die uitgawes wat aangegaan is terugeis.”
  • In Kuruman het die AfriForum-tak probleme met beide straatligte en slaggate suksesvol aangepak. Die Kuruman-tak het in samewerking met die Ga-Segonyana Plaaslike Munisipaliteit ʼn groot aantal straatligte in die dorp herstel en die koste van dié projek het sowat R8 000 beloop. Die tak het ook begin om slaggate in sewe van die dorp te strate te begin herstel en volgens Wico Swanepoel, AfriForum se provinsiale koördineerder vir die Noord-Kaap, kan gemeenskappe nie meer agteroor sit en hoop dat probleme opgelos word nie. “Ons het geen ander keuse as om self moue op te rol en ’n verskil te maak nie.”
  • Die AfriForum-tak in Coligny en Midfran Roads het reeds meer as 24 slaggate herstel. Clarence Algar, voorsitter van die AfriForum Coligny-tak, het gesê dat Coligny ʼn algehele verval in dienslewering ervaar, omdat die Ditsobotla Plaaslike Munisipaliteit (DPM) sy plig versuim. Waar moontlik gaan AfriForum die kostes van die projek, wat meer as R2 000 beloop, terugeis van die munisiplaiteit.
  • Die AfriForum-tak in Lichtenburg het reeds meer as 200 slaggate herstel en het ook vandag begin om paaie in die dorp skoon te maak. “Ons wil deur verskeie selfdoen-aksies die strate mooi en netjies maak, en ook druk op die regering toepas om hul pligte na te kom”, sê Johan Swart, bestuurslid van die Lichtenburg-tak. Die koste van die projek is meer as R23 000, wat deur die gemeenskap betaal is en onkostes sal waar moontlik van die munisipaliteit teruggeëis word.
  • R10 000 is in Belfast gebruik om die dorp se begrafplaas en vullisterrein skoon te maak. “Ons is egter vandag baie opgewonde dat hierdie projek in samewerking met die Emakhazeni Plaaslike Munisipaliteit kon geskied. Ons sien uit daarna om in die nabye toekoms nóg projekte saam met die munisipaliteit uit te voer”, sê Hein Gonzales, AfriForum se provinsiale koördineerder vir Mpumalanga.

Die 10 Dae van Selfstandigheid is aangepak in aanloop tot Saterdag, 10 Oktober, wanneer die Solidariteit Beweging sy Toekomsberaad in Pretoria hou.

Soortgelyke plasings