|

AfriForum vlek COVID-19-korrupsie in Stad Johannesburg oop

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag strafregtelike klagtes van korrupsie by die Lyttelton-polisiestasie teen die Stad Johannesburg en tersaaklike verskaffers gelê. Hierdie klagtes volg nadat ’n interne ouditverslag van dié stadsraad aan AfriForum se privaatvervolgingseenheid gestuur is.

Op 19 Maart 2020, ná afloop van die aankondiging van ’n nasionale ramptoestand, het die nasionale tesourie ’n omsendbrief uitgereik rakende die aanskaffing van COVID-19-noodtoerusting en -dienste. Volgens dié omsendbrief kan munisipaliteite kwotasies van verskaffers aanvra vir hierdie toerusting en/of dienste mits dit aan die Gesondheidsdepartement se voorskrifte voldoen, die pryse nie hoër as ’n sekere bedrag is nie en die verskaffer op die sentrale verskafferdatabasis (SVD) geregistreer is.

Tydens die tydperk van 15 tot 31 Maart 2020 het die Stad Johannesburg egter byna R80 miljoen spandeer wat volgens ’n interne oudit ’n growwe oortreding van verskeie wette en regulasies inhou. Maatskappye wat byvoorbeeld in voertuigremme spesialiseer het na bewering gedurende dié tydperk betaling ontvang vir die verskaffing van mediese noodtoerusting.

Die Stad Johannesburg het onder meer die maatskappy Omphile Turnkey Solutions (wat volgens die maatskappy se webtuiste in onder meer binnenshuise versiering en argitektuur spesialiseer) meer as R4,6 miljoen betaal vir diepreiniging en sanitasie. Die maatskappy KM Mashigo Trading (wat volgens hul webtuiste ingenieursdienste bied) het ook R3,5 miljoen vir diepreiniging en sanitasie ontvang.

’n Verdere ondersoek deur AfriForum se privaatvervolgingseenheid het ontbloot dat Tebogo Letselebe, direkteur van Omphile Turnkey Solutions, ook ’n werknemer van KM Mashigo Trading is. Kabelo Mashigo is die enigste direkteur van KM Mashigo Trading, terwyl Mashigo en Letselebe dieselfde kontaknommer én besigheidsadres het. Tog het beide maatskappye kwotasies by die Stad Johannesburg ingedien vir die lewering van dieselfde dienste en later betaling ontvang.

“Dit is verstommend dat die Stad Johannesburg ten spyte van hierdie prima facie-bewyse nog geen strafregtelike stappe teen hierdie individue, asook geïmpliseerde partye in die stadsraad geneem het nie. Dit blyk dat pres. Cyril Ramaphosa se beloftes oor daadwerklike stappe teen diegene wat korrupsie pleeg tot dusver geen resultate lewer nie. AfriForum as burgerregtewaghond was dus genoodsaak om in te gryp en hierdie klagtes te lê,” sê Monique Taute, hoof van AfriForum se Teenkorrupsie-eenheid.

Soortgelyke plasings