AfriForum verwelkom uitspraak dat Duduzane Zuma nie kwytgeskeld word nie


AfriForum het die hofuitspraak vandag verwelkom dat Duduzane Zuma (seun van voormalige president Jacob Zuma) nie op ’n klag van strafbare manslag en ’n klag van roekelose en nalatige bestuur kwytgeskeld word nie. Die saak is tot 15 Mei 2019 uitgestel, wanneer die verdedigingspan sy getuienis sal begin lei.

Zuma Jr. se verdedigingspan het ’n aansoek ingevolge artikel 174 van die Strafproseswet, 1977 (Wetno. 51 van 1977) gebring. Dié aansoek behels dat die verdediging nie sy saak hoef te stel nie, omdat die staat daarin misluk het om ’n prima facie-saak teen die beskuldigde uit te maak.
Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het aanvanklik besluit om nie vir Zuma Jr. in verband met ’n motorongeluk op 1 Februarie 2014 op die M1-snelweg in Gauteng – waarin Mekelina Dube, ’n jong vroulike passasier, op slag dood is – te vervolg nie. Nadat AfriForum se privaatvervolgingseenheid aansoek gedoen het om Zuma Jr. privaat te vervolg, het die NVG egter sy aanvanklike besluit omgekeer en vervolging ingestel.

“Hierdie uitspraak is nie net ’n oorwinning vir die Dube-familie nie, maar vir almal in Suid-Afrika wat in gelykheid voor die reg glo,” sê Wico Swanepoel, aanklaer by AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Soortgelyke plasings