AfriForum verwelkom Solidariteit-regshulp vir Schweizer-Reneke-onderwyseres


AfriForum verwelkom die vakbond Solidariteit se keuse om Elana Barkhuizen met regshulp by te staan nadat sy verlede Woensdag ná aanvang van die 2019-skooljaar onwettig geskors is. Dié optrede deur die Onderwysdepartement van die Noordwes volg nadat ’n foto wat Barkhuizen van ’n ander klas geneem het soos ’n veldbrand op sosiale media versprei het.

Volgens dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, is ’n briljante, geliefde onderwyseres oornag deur ’n boendoehof verguis. “Elana Barkhuizen, ’n beheerliggaamaanstelling, is bekend vir haar sagte hart en vir die toebroodjies wat sy daagliks vir alle honger kinders skool toe gebring het – ongeag hul ras. Sy is boonop onwettig geskors, aangesien sy nie in diens van die LUR of die staat staan nie.”
“AfriForum is dankbaar dat Solidariteit vandag ’n nederige, kwesbare onderwyseres bygestaan het nadat die regering, politieke partye en sosiale media ’n onskuldige foto uit verband geruk en as blatante rassisme geëtiketteer het,” sê Carien Bloem, AfriForum se projekkoördineerder vir onderwys. “Nie net is klein kinders deur hierdie traumatiese gebeurtenis geraak nie, maar ’n onskuldige onderwyseres se beeld en aansien is ook geskend.”

AfriForum se gemeenskapveiligheidstrukture patrolleer daagliks in die omgewing om Laerskool Schweizer-Reneke om die situasie te moniteer en te verseker dat die skool, leerders en onderwysers veilig is.

AfriForum se gemeenskapsveiligheidafdeling het ook bystand aan die skool verleen tydens dié rasseherrie en skorsing. “AfriForum-gemeenskapsveiligheid sal saam met ons lede in dorpe en skole betrokke raak om ons gemeenskappe en skole te beveilig,” sê Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum.

Solidariteit sal vandeesweek ’n dringende hofaansoek teen die LUR en ander betrokkenes bring ten einde die onreg teen Barkhuizen reg te stel.

Barkhuizen het ’n verklaring voorgelees waarin sy haar verbintenis tot haar werk, leerders en skool uitgestippel het: “Ek gaan my nie deur enigiemand laat vertel wat my waarde is nie. Ek gaan hierdie pad stap. Ek gaan my naam skoon kry. Ek gaan hierdie magtige mense aanvat en wen. Ek gaan seker maak dat niemand ooit weer deurgaan wat ek nou deurmaak nie.”

Soortgelyke plasings