AfriForum verwelkom skuldigbevinding, vonnisoplegging van plaasaanvaller


AfriForum verwelkom die vonnisoplegging van Sebenzile Simane (32) vanoggend in die Oos-Kaapse hoë hof in Port Elizabeth. Simane is effektiewelik tot 173 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy gister skuldig bevind is aan 17 klagtes – waaronder poging tot moord en verkragting – vir die koelbloedige aanslag op ’n gesin in die Hankey-distrik in die Oos-Kaap.

Dit volg ná ’n plaasaanval in 2018 waartydens ’n boervrou deur Simane geskiet is en ten aanskoue van haar minderjarige dogter verkrag is.
Simane sal die vonnis wat teen hom opgelê is gelyklopend uitdien.

“AfriForum verwelkom die hof se beslissing, wat hierdie soort sadistiese en bloeddorstige aanvalle op boere en hul gesinne verdoem. Ons vertrou dat ander howe hierdie voorbeeld sal volg om die erns van die vlaag van plaasaanvalle wat die land teister tuis te bring en geregtigheid te laat seëvier. Dit bly egter ’n skrale troos vir slagoffers van aanvalle soos dié wat die stukke van hul lewens moet optel en aangaan. AfriForum sal voortgaan om ondersteuning aan slagoffers van plaasaanvalle te bied om die pad tot herstel wat voorlê meer draaglik te maak,” sê Marnus Kamfer, AfriForum se regs-en risikobestuurder vir gemeenskapsveiligheid.

Soortgelyke plasings