AfriForum verwelkom skorsing van burgemeester oor rassistiese uitlatings

AfriForum verwelkom die skorsing van Nkosinjani Speelman, uitvoerende burgemeester van die Matjhabeng-munisipaliteit in Welkom, nadat hy beledigende rassistiese uitlatings teenoor ’n sekere etniese groep in die gebied gemaak het. AfriForum verwag egter steeds dat die Menseregtekommissie (MRK) die saak ondersoek en dat die Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, die premier van die Vrystaat, asook die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Plaaslike Regering (SALGA) standpunt inneem teen Speelman, aangesien sy uitlatings volgens die burgerregteorganisasie op haatspraak neerkom.

Dít volg nadat AfriForum gister ’n klag van haatspraak teen Speelman by die MRK aanhangig gemaak het. Die burgerregteorganisasie het ook gister in briewe aan die minister, die premier en SALGA geëis het dat dissiplinêre stappe teen Speelman gedoen word.

In ’n video-opname van Speelman, waar hy lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) toespreek, verwys hy na inwoners van Bronville (’n bruin gemeenskap buite Welkom) as “Boesmans”. Hy het ook die volgende gesê: “In Bronville, jy weet mos party van die ‘Boesmans’, they take some chances; don’t hesitate. I talked to them yesterday, but when you close them (down), they get out and drink again.”

Speelman sê ook in die video dat lede van die SANW na Bronville moet gaan en wys dat hulle soldate is. Hy het ook bygevoeg die soldate moet “skop and donner” indien nodig en sê hy sal hulle ondersteun.

“AfriForum beskou Speelman se uitlatings as haatspraak omdat hy ’n etniese groep op grond van hul identiteit teiken en hy ook aanmoedig dat geweld teen daardie groep gepleeg word. As ’n organisasie wat hom op die beskerming van minderheidsregte toespits, sal AfriForum toesien dat hierdie saak met die nodige erns hanteer word,” sê Natasha Venter, senior veldtogbeampte by AfriForum.

Soortgelyke plasings