AfriForum verwelkom Sanral se besluit oor e-tol-skuld


Die burgerregte-organisasie AfriForum het Sanral se besluit om die invordering van agterstallige e-tol-skuld op ys te plaas, verwelkom. AfriForum sê dit is ’n oorwinning vir die burgerlike samelewing as geheel, asook vir die maatskappye en motoriste wat deur AfriForum se regspan bygestaan is om Sanral se dagvaardings aan hulle teen te staan.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, wys Sanral se besluit dat die burgerlike samelewing sy mag effektief kan gebruik om uitbuiting deur ’n korrupte owerheid te bestry. Hy wys daarop dat AfriForum se regspan reeds verskeie motoriste en maatskappye wat dagvaardings van Sanral ontvang het, bygestaan het om dié dagvaardings te laat vaar.

“AfriForum was gereed om ’n toetssaak te voer sou Sanral met optrede teen ons lede voortgaan.”

Kriel het die hoop uitgespreek dat die regering en Sanral voortaan oor meer koste-effektiewe wyses, eerder as die verkwistende e-tolstelsel, sal besin om paaie te finansier.

Soortgelyke plasings