AfriForum verwelkom persombudsman se beslissing oor The Huffington Post SA


AfriForum verwelkom die persombudsman se beslissing dat die artikel getiteld “Could it be time to deny white men the franchise?” wat op The Huffington Post Suid-Afrika gepubliseer is, diskriminerend en neerhalend is. Dít volg nadat AfriForum The Huffington Post Suid-Afrika en die redakteur Verashni Pillay aangekla het vir die publikasie en verdediging van dié artikel.
In die artikel word onder meer aangevoer dat wit mans hul stemreg vir 20 tot 30 jaar ontneem moet word.
Pillay se verdediging van die publikasie van die artikel is ook volgens die beslissing haatspraak. Die persombudsman het in die beslissing gemeld dat Pillay die volste reg het om die sienings wat in die artikel gehandhaaf word, te hê, maar sy moet besef dat die publisering daarvan nie binne die omvang van die perskode is nie.

“AfriForum verwelkom die persombudsman se bevinding, maar ons is bekommerd dat die vermoede van die skrywer van die oorspronklike artikel gepubliseer in The Huffington Post Suid-Afrika korrek bewys is; naamlik dat enige nonsens opgeslurp en deel van die openbare debat kan word, solank as wat die regte groep (wit mans) geteiken word,” sê Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum.

Die persombudsman het ook beveel dat The Huffington Post Suid-Afrika onvoorwaardelike verskoning vir die publisering van die artikel aan die algemene publiek moet vra.

Soortgelyke plasings