AfriForum verwelkom Panyaza Lesufi se skuif uit die onderwys


Die burgerregtewaghond AfriForum beskou Panyaza Lesufi se skuif uit die onderwysportefeulje as ’n aanwins vir onderwys in Gauteng. David Makhura, premier van Gauteng, het aangekondig dat Lesufi voortaan as LUR vir finansies en e-regering in Gauteng sal optree.

Lesufi het geen geheim gemaak daarvan dat hy Afrikaanssprekendes minag en Afrikaanse skole teiken nie. Dít ten spyte daarvan dat daar ’n drastiese behoefte is aan gehalte-onderrig, genoeg skole en die ontwikkeling en toepassing van moedertaalonderrig vir alle kinders in Gauteng – kwessies waarop hy eerder sy aandag moes toespits.
Sy poging om die laaste vyf jaar voornemende graad 1- en 8-leerders met ’n aanlyn stelsel te registreer, het ook eindelose probleme opgelewer.
AfriForum hoop van harte dat me Nomantu Nkomo-Ralehoko, die nuwe LUR vir onderwys, werk daarvan sal maak om onderwys in Gauteng na nuwe hoogtes te neem, aandag aan bestaande probleme sal gee en nie sal voortgaan om Afrikaans en Afrikaanse onderrig vir politieke gewin te teiken nie.

“Dit sal wonderlik wees as onderwys en onderrig in Gauteng voortaan regverdig benader word, dat wedersydse erkenning en respek vir mekaar sal seëvier en bowenal dat ontwikkeling van ons kinders die einddoel sal wees – nie die verengelsing van skole nie,” sê Carien Bloem, AfriForum se projekkoördineerder vir onderwys.
“AfriForum kan maar net hoop dat Lesufi se nuwe portefeulje – LUR vir finansies en e-regering – nie ’n klaaglike mislukking onder sy leiding gaan wees nie,” sluit Bloem af.

Soortgelyke plasings