| | |

AfriForum verwelkom nuwe tydperk vir vuurwapenamnestie 

AfriForum verwelkom die nuwe amnestietydperk vir vuurwapenlisensies wat die Nasionale Vergadering op 30 Julie 2020 goedgekeur het. Die nuwe amnestie is nou van 1 Augustus 2020 tot 31 Januarie 2021 van krag.

AfriForum en sy regspan het gedurende die inperking aanhoudend druk op Bheki Cele, Minister van Polisie, en genl. Khehla Sitole, Nasionale Polisiekommissaris, toegepas oor die amnestietydperk. AfriForum was veral bekommerd dat vuurwapeneienaars nie tydens Vlak 5 van die inperking van die amnestie gebruik kon maak nie, omdat dit volgens inperkingsregulasies nie as noodsaaklik geag was om polisiekantore vir dié doeleindes te besoek nie. Die minister se kantoor het AfriForum se skrywes beantwoord en bevestig dat daar oorweeg word om die parlement oor ’n verdere amnestieperiode te nader.

’n Tussentydse hofbevel, wat beskerming verleen het aan lisensiehouers in besit van vuurwapens wie se lisensies (soos uitgereik in terme van die Wet op Beheer van Vuurwapens 60 van 2000) verval het, is op 23 Julie 2020 tersyde gestel. Dit beteken duisende mense besit nou ’n ongelisensieerde vuurwapen – wat ’n misdaad is met ’n moontlike vonnistydperk van 15 jaar tronkstraf, sou hulle skuldig bevind word.

“Vuurwapeneienaars met ’n vervalde “wit” lisensiekaart moet dit ernstig oorweeg om van die amnestieperiode gebruik te maak om hul vuurwapens weer wettig te besit. Vuurwapeneienaars het tydens die tydperk die geleentheid om vuurwapens waarvan die lisensie verval het by hul naaste polisiekantoor in te dien sodat daar van voor af weer vir die ingehandigde vuurwapen se lisensie aansoek gedoen kan word,” sê Marnus Kamfer, AfriForum se regs-en-risikobestuurder vir Gemeenskapsveiligheid.

“Ons verstaan dat mense wat hulle in hierdie penarie bevind, huiwerig is om hul vuurwapens aan die polisie te oorhandig en deur die rompslomp te gaan om weer vir die lisensie aansoek te doen. Ons moedig hulle egter aan om kundige hulp te bekom en die proses enduit deur te voer sodat hulle in staat sal wees om hulself en hul families binne die raamwerk van die wet te beskerm. AfriForum sal aanhou om maniere te ondersoek om vuurwapeneienaars by te staan,” sluit Kamfer af.

Soortgelyke plasings