AfriForum verwelkom Nersa-besluit oor tariefverhoging


Die burgerregte-organisasie AfriForum verwelkom die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) se besluit om Eskom se elektrisiteitstarief vir die 2018/2019 finansiële jaar met slegs 5,23% te verhoog. Dít volg nadat Eskom ’n verhoging van 19,9% aangevra het.

“AfriForum het hierdie tariefverhoging uit die staanspoor teengestaan deur skriftelike kommentaar aan Nersa te lewer. Ons het ook aan die openbaredeelnameproses deelgeneem deur ’n voorlegging te lewer wat aanvoer dat die kostes van Eskom se beweerde korrupte aktiwiteite en wanadministrasie by die berekening van die verhoging vir die komende jaar se elektrisiteitstarief uitgesluit moet word,” sê Morné Mostert, AfriForum se hoof van plaaslikeregeringsake.

Tydens dié deelnameproses het besighede, myne en ander organisasies hul perspektief kom stel oor waarom die verhoging nie moet plaasvind nie. Die hoeveelheid besware wat ingedien is, was só oorweldigend dat die energiereguleerder die aankondiging van sy besluit twee keer moes uitstel.

“Gemeenskappe kan nie langer vir Eskom se wanbestuur betaal nie en dit is tyd dat húlle daarvoor verantwoordelik gehou word. Gemeenskappe kan help om oplossings vir die land se probleme te bied deur aan openbare prosesse deel te neem en by burgerregte-organisasies aan te sluit wat sulke onregverdigheid teenstaan. Ons sal verder die redes vir Nersa se besluit in diepte bestudeer,” sluit Mostert af.

Met jou steun kan AfriForum aanhou om vir jou regte te baklei. Sluit aan deur jou naam na 45344 te SMS (R1).

Soortgelyke plasings