| | |

AfriForum verwelkom heropening van skole en sal bystand lewer

Die burgerregteorganisasie AfriForum verwelkom Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, se aankondiging van vandag dat skole geleidelik weer sal heropen om die skooljaar van 2020 te hervat.

Skole sal op 6 Mei 2020 weer ’n aanvang vir die leerders van graad 7 en graad 12 neem en dan geleidelik vir ander grade oopgestel word tot 15 Julie 2020, wanneer graad R-leerders volgens huidige beplanning mag terugkeer skool toe.

Dit is egter ’n ernstige bron van kommer dat meer as 3 500 skole in Suid-Afrika geen toegang tot watertoevoer het nie en dus ook nie in staat is om die nodige higiëne te handhaaf nie.

Verder meen AfriForum dat die uiteensetting van die aantal leerders wat per klas toegelaat word, nie duidelik genoeg uiteengesit is nie, en versoek dat die departement dringend meer inligting daaroor moet bekendmaak.

“Die onprofessionele wyse waarop die aankondiging gemaak is, skep ongelukkig weinig vertroue by die duisende onderwysers, ouers en leerders wat na die aanbieding gekyk het,” sê Carien Bloem, bestuurder vir onderwys by AfriForum. “AfriForum vertrou dat daar in die toekoms ook op die aanbieding van sodanige belangrike inligting gelet sal word. Ouers en onderwyspersoneel verkeer tans onder groot druk en moet daarom op professionele leiding en duidelike voorsiening van inligting kan staatmaak.”

AfriForum is besig met uitgebreide beplanning vir ondersteuning aan skole om die veiligheid van alle betrokkenes te help verseker en aanvul. Aankondigings hieroor sal deurgaans gemaak word sodra skole weer hervat.

“AfriForum is onder meer besig met die gratis verspreiding van veeltalige patrone vir die vervaardiging van maskers en ontwikkel ook inligtingstukke wat onderwysers in klaskamers kan gebruik om leerders in te lig oor die belangrikheid en handhawing van basiese higiëne,” voeg Bloem by.

AfriForum nooi lede van die publiek uit om die organisasie by onderwys@afriforum.co.za te kontak indien hulle van skole weet wat hulp benodig, of wat in enige van hierdie produkte sal belangstel.

Soortgelyke plasings