| | |

AfriForum verwelkom direktief oor hernuwing van vuurwapenlisensies

AfriForum verwelkom die direktief deur lt.genl. Moeketsi David Sempe op 7 Mei 2020 wat onder meer bevestig dat vuurwapenlisensiëring nou toegelaat word en dat polisiekantore hernuwingsaansoeke van vuurwapenlisensies en bevoegdheidsertifikate moet inneem. Dié direktief bevestig ook die Minister van Polisie se skrywe van 22 April 2020 aan AfriForum se regspan dat vuurwapeneienaars wie se 90 dae tydperk om hul vuurwapenlisensie te hernu deur vlak 5 van die staat van inperking – wat op 1 Mei 2020 geëindig het – beïnvloed is, steeds aanvaar sal word.

Die direktief bevestig verder dat vuurwapeneienaars nou weer gebruik kan maak van die amnestieperiode wat op 31 Mei 2020 eindig. Laastens bevestig die direktief ook dat die Minister van Polisie dit sterk oorweeg om die parlement te nader vir ’n verlenging van die gemelde amnestietydperk.

Dít volg nadat AfriForum se regspan op 25 Maart 2020 ’n skrywe aan Bheki Cele, Minister van Polisie, asook Khehla Sithole, Nasionale Polisiekommissaris, gerig het. In die skrywe het AfriForum onder meer kommer uitgespreek dat vuurwapeneienaars se vermoë om hul vuurwapenlisensies betyds te hernu weens die staat van inperking negatief beïnvloed sal word.

“Die direktief bevestig formeel dat wetsgehoorsame vuurwapeneienaars nou hul lisensies kan hernu op die voorgeskrewe wyse en nie te nagekom sal word weens die inperkingsperiode nie. AfriForum sal moniteer of die stasies aan die direktief voldoen en sal aanhou veg om regmatige, verantwoordelike vuurwapeneienaars se regte te beskerm,” sê Marnus Kamfer, AfriForum se regs-en-risikobestuurder vir gemeenskapsveiligheid.

Soortgelyke plasings