|

AfriForum verwelkom departement se aksieplan vir Senekal-waterkrisis

AfriForum verwelkom die departement van waterwese en sanitasie (DWS) se ingryping om die gemeenskap van Senekal by te staan tydens die waterkrisis wat tans in dié dorp voort woed.

Dit volg nadat die burgerregte-organisasie vandeesweek ʼn volledige aksieplan van Nomvula Mokonyane, minister van waterwese en sanitasie, ontvang het waarin die departement se kort- en langtermynoplossings vir dié dorp se waterkrisis uiteengesit word.

AfriForum het die departement reeds in Junie op terme geplaas om ’n aksieplan vir die waterkrisis aan hom bekend te maak. Die departement het daarna in Julie met die burgerregte-organisasie vergader om die ernstigste droogtekrisis te bespreek wat tans in die verskeie dele van die Vrystaat ervaar word.

Intussen het AfriForum reeds talle selfdoen-inisiatiewe van stapel gestuur om verligting te bring aan gemeenskappe wat deur die droogte geraak word. Die burgerregte-organisasie het in Mei ʼn konvooi, bestaande uit lede van 18 takke in die oostelike dele van die Vrystaat en Gauteng-Suid, gemobiliseer en sowat 250 000 liter water aan die gemeenskap van Senekal verskaf.

Volgens Charles Castle, regs- en risikokoördineerder van AfriForum, is dit belangrik dat die sowat R4 miljoen wat beskikbaar gestel is vir die ingryping in Senekal reg bestuur word deur die Setsoto plaaslike munisipaliteit om korrupsie en wanbesteding te verhoed.

“Die wanbesteding van fondse en wanbestuur van munisipaliteite, hetsy deur onkunde of onwilligheid, veroorsaak dat gewone burgers se lewensstandaard en grondwetlike regte ernstig geskend word”, meen Castle.

“Die departement maak groot beloftes en AfriForum sal optree as ʼn waghond om te verseker dat dit wat uiteengesit is, suksesvol en volhoubaar geïmplementeer word.”

Hoewel daar nog nie ʼn tydlyn vir die implementeringsproses is nie, meen die burgerrete-organisasie dat hul streng sal optree om te verseker dat die departement hul verantwoordelikhede sal nakom.

AfriForum doen ’n beroep op gemeenskappe om aktief betrokke te raak en ʼn daadwerklike verskil te maak.

SMS (R1) jou dorp se naam na 31481.

 

 

 

 

 

 

Soortgelyke plasings