AfriForum verwelkom dat Coligny-twee se aansoek om verlof tot appèl toegestaan is

AfriForum verwelkom die spesiale verlof wat Pieter Doorewaard en Phillip Schutte van Coligny ontvang het om direk by die appèlhof in Bloemfontein te kan appelleer teen hul skuldigbevinding deur die hoë hof in Mmabatho aan die moord op die tiener Matlhomola Moshoeu. Dít volg nadat Doorewaard en Schutte se regspan onder leiding van adv. Barry Roux die appèlhof suksesvol gepetisioneer het om verlof tot appèl te kry nadat die hoë hof in Mmabatho in Maart vanjaar geweier het om verlof tot appèl in dié saak toe te staan.

AfriForum het besluit om Doorewaard en Schutte se appèlaansoek te befonds nadat Bonakele Pakisi, die enigste ooggetuie in die moordsaak, teenoor vier persone erken het hy het in die hof gelieg het. Hy het getuig dat hy gesien het hoe Doorewaard en Schutte dié tiener vermoor.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is sy organisasie dankbaar dat die twee mans nou die geleentheid sal kry om te bewys dat die hoë hof in Mmabatho ernstig fouteer het deur sleutelgetuienis tot hul onskuld te ignoreer en op die storie van ’n leuenaar as enigste ooggetuie te steun.

Kriel het aangedui dat AfriForum ook die res van die twee mans se appèlproses sal befonds om te verseker dat geregtigheid geskied en te verhoed dat onskuldige mense nie verkeerdelik in die tronk sit nie. “Ek is vol vertroue dat die twee mans se skuldigbevinding aan moord uiteindelik op grond van die beskikbare getuienis ter syde gestel sal word,” sê Kriel.

Dit is volgens Kriel belangrik dat mense wat leuens verkondig om rassespanning te skep en valslik ’n wolk van “rassisme” oor onskuldige mense se koppe te laat hang daarvoor verantwoordelik gehou moet word.

“Net soos Doorewaard en Schutte se lewens deur leuens vernietig is, het ons ook weer in Schweizer-Reneke gesien hoe rasse-opstokers die bekwame onderwyseres Elana Barkhuizen se lewe op sy kop gekeer het deur hul leuens en wanvoorstellings. Die tyd het aangebreek dat leuenaars en rasse-opstokers se vernietigingswerk teengestaan word,” sluit Kriel af.

Soortgelyke plasings