AfriForum verwelkom arrestasies van vier vermeende plaasaanvallers


AfriForum verwelkom die nuus dat vier verdagtes, wat vermoedelik by die Klapmuts-plaasaanval van 4 Junie 2019 betrokke was, in hegtenis geneem is.

“Dit gebeur nie gereeld dat verdagtes kort ná plaasaanvalle vasgetrek word nie en ons verwelkom die polisie se pogings om dit te bewerkstellig. As Wes-Kaapse gemeenskap moet ons egter begin om proaktief te dink,” sê Johandré van Zyl, AfriForum se hoof van veiligheid vir die suidstreek.

Ná die moord op Tool Wessels in Mei vanjaar is een verdagte ook spoedig vasgetrek.
Misdaad in die Wes-Kaap is die afgelope week in die kollig ná verskeie moorde in hierdie provinsie. Volgens AfriForum is die moordsyfer in die Wes-Kaap meer as genoeg rede vir Bheki Cele, minister van polisie, om daadwerklik op te tree en proaktiewe aksieplanne op te stel en te implementeer.
Volgens adv. Albert Fritz, LUR vir gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap, is 1 875 moorde die afgelope ses maande in dié provinsie gepleeg. Adv. Fritz het dit met ’n oorlog vergelyk.
AfriForum het reeds skrywes aan Alan Winde, Wes-Kaapse premier, en adv. Fritz gestuur in ’n poging om samewerking in die provinsie te bewerkstellig. AfriForum sal vandeesweek ook aan lt.genl. Khombinkosi Jula, die provinsiale kommissaris van polisie, skryf.

“AfriForum wil graag met die polisie en die provinsiale regering hande vat om in alle gebiede – landelik en stedelik – saam te werk. Misdaad in Suid-Afrika is lankal nie meer net die regering se probleem nie. Burgerregte-organisasies soos AfriForum het ook ’n rol om te speel om die polisie te help, maar die polisie moet as primêre rolspelers ingryp.
“AfriForum verstaan dat ’n vergadering tussen adv. Fritz en minister Cele beoog word en ons ondersteun die Wes-Kaapse regering om hulp by die minister te kry,” sê Van Zyl.

Soortgelyke plasings