|

AfriForum verwelkom afdanking van rassistiese onderwyser

Die burgerregte-organisasie AfriForum verwelkom die afdanking van Tlou Molele, ’n wiskunde-onderwyser van die Curro-groep se Northern Academy in Polokwane, nadat dié organisasie vroeër sy kop weens rassistiese uitlatings op facebook geëis het.

AfriForum het vroeër versoek dat die skool Molele afdank nadat hy onder meer gesê het dat witmense mutasies is. Sy inskrywing het gelui: “If it wasn’t for this genetic error called mutation, the white f……..s would have never existed. We would not be in protest and s…t like this if you white f…….s went back to your native lands.”

Die saak is ook by die Suid-Afrikaanse Mensregtekommissie (MRK) aanhangig gemaak, wat vandeesweek verkies het om Molele net liggies oor die vingers te tik. Die MRK meen Molele was berouvol en dat dit voldoende straf is as hy ’n teenrassisme-werksessie van die MRK bywoon en ’n gratis wiskundeklas vir gr. 10’s aanbied.

Luidens mediaberigte het Joy Smith, woordvoerder van die Curro-groep, vandag egter gesê dat Molele se inskrywing in ’n baie ernstige lig en as onaanvaarbaar beskou word. Sy optrede het ingedruis teen die groep se sosialemediabeleid.

Molele het onder meer ook gesê dat hy geen beswaar daarteen het om plekke af te brand wat “wit heerskappy” ondersteun nie.

Monique Taute, nasionale veldtogkoördineerder van AfriForum, het Molele se afdanking verwelkom en gesê AfriForum is egter teleurgesteld oor die straf waarop die MRK besluit het.

Sy meen die MRK het weer bewys dat hy dubbele standaarde handhaaf wanneer dit by kwessies soos rassisme en aanhitsing kom. “Alle vorme van rassisme deur alle Suid-Afrikaners moet met dieselfde afkeur veroordeel word. Dit wil steeds voorkom asof organisasies en ontleders wat hulle sterk teen wit rassisme uitspreek, nie dieselfde standpunt huldig wanneer swart mense hulle aan dieselfde gedrag skuldig maak nie.”

Taute het gesê as instansies soos die MRK nie met gepaste optrede en strawwe teen rassisme vorendag kom nie, sal gemeenskappe dit moet eis.

Soortgelyke plasings