|

AfriForum versoek vergadering met gesondheidsminister oor NGV

AfriForum het vandag ’n vergadering met dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, versoek om die burgerregteorganisasie se besware en bekommernisse oor die regering se beplande nasionale gesondheidsversekeringskema (NGV) uit te lig. Een van hierdie bekommernisse sluit in dat die implementering van NGV daartoe kan lei dat die land se beleggingstatus na rommel afgegradeer word.

AfriForum het meer as 235 000 lede en het daarom ’n wesenlike belang by beleide soos NGV. Die burgerregteorganisasie dryf sedert die aankondiging van die regering se NGV-plan ’n veldtog om dit teen te staan en mense volledig in te lig van die potensiële slaggate wat dit inhou. Een van hierdie potensiële slaggate is dat die afgradering tot rommelstatus (waartoe die implementering van NGV kan lei, aangesien dit reusebedrae gaan vereis om te befonds) mense se kanse op ekonomiese sukses kan ondermyn deur salarisse te verklein of tot verdere werksverliese te lei.

Die probleem met een gesondheidstelsel vir almal is verder dat daar van slegs 8,3% van die mense (belastingbetalers) verwag gaan word om vir die hele land se gesondheidsorg te betaal. Die gesondheidsdepartement is jaar ná jaar een van die departemente met die swakste oudits en die belastingbetaler kan nie ’n belastingverhoging bekostig om bloot nóg ’n regeringsbeleid (wat gedoem is om te misluk) te befonds nie.

“Dit is verder vir AfriForum kommerwekkend dat die gesondheidsdepartement versuim om ag te slaan op enige besware wat teen dié beleid geopper word. Ons beoog daarom om onder meer met hierdie vergadering antwoorde by die gesondheidsdepartement te kry oor hoe hulle beplan om AfriForum se bekommernisse oor NGV te hanteer en te eis dat hulle ag slaan op ons waarskuwings oor die onwerkbaarheid van hierdie skema,” sê Natasha Venter, AfriForum se woordvoerder vir NGV.

AfriForum se versoek volg op ’n skrywe wat die burgerregteorganisasie op 22 November 2019 aan pres. Cyril Ramaphosa, finansiesminister Tito Mboweni en Mkhize geskryf het om hulle te waarsku dat die implementering van NGV daartoe kan lei dat die land se beleggingstatus na rommel afgegradeer kan word.

AfriForum het ook reeds twee verslae as kommentaar teen die NGV-wetsontwerp by die parlementêre portefeuljekomitee vir gesondheid ingedien.

Soortgelyke plasings