AfriForum versoek verdere stappe ná Eskom-besluit oor bonusse


AfriForum het Eskom se besluit om nie vanjaar bonusse en salarisverhogings aan sy topbestuur toe te ken nie, asook nie vakatures in hierdie poskategorie te vul nie, verwelkom. Die burgerregte-organisasie het egter versoek dat verdere stappe geneem word om die kragreus te stabiliseer.
Dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum, sê egter hierdie aankondiging is vér van voldoende.

“Die toekenning van buitensporige bonusse aan topbestuur is wel ’n probleem, maar die staking daarvan is bloot kosmetiese veranderinge in ’n poging om die publiek se opinie oor die kragreus effens positiewer te maak. Dit spreek egter nie die kern van Eskom se probleme aan nie.”

Jabu Mabuza, voorsitter van Eskom, het verder erken dat Eskom se personeeltal minstens 30% minder moet wees. Dit is ’n konserwatiewe raming, aangesien Eskom luidens ’n 2016-studie deur die Wêreldbank sowat 66% te veel personeel het. Die gemiddelde jaarlikse salaris by Eskom word op nagenoeg R750 000 beraam.

“Die toekomstige besparing van ’n paar miljoen aan bestuurslede se vergoeding is dus ’n druppel in die emmer van wat bespaar kan word indien kwessies soos ’n té groot werksmag, korrupsie en wanadministrasie behoorlik aangepak word. Mabuza het egter geen tasbare planne aangekondig om die werksmag te verminder nie,” sê Brink.

Volgens Brink het AfriForum vandeesweek ook ’n voorlegging by die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) se openbare sitting in Midrand gedoen rakende Eskom se moontlike elektrisiteitstariefverhoging om R67 miljard in te vorder.

“Verskeie rolspelers het by hierdie geleentheid bewyse gelewer dat die verliese weens bedrog, wanadministrasie, oorbodige personeel en korrupsie by Eskom baie meer as hierdie bedrag beloop. Dit is onaanvaarbaar dat die verbruiker elke keer vir hierdie uitgawes moet pa staan, terwyl Eskom slegs probleme erken, maar nie moeilike besluite wil neem om dit reg te stel nie. Ons doen daarom ’n beroep op Eskom om nog groot en moedige stappe rakende hierdie probleme te neem.”

Soortgelyke plasings