AfriForum versoek uMhlathuze-bestuur se minimum kwalifikasies


AfriForum het van die uMhlathuze Plaaslike Munisipaliteit versoek om bewyse aan die burgerregte-organisasie te voorsien dat die senior bestuur wel aan die minimum kwalifikasievereistes voldoen, soos deur die Munisipale Finansiële Bestuurswet, 2003 (Wetno. 56 van 2003) uiteengesit.

“Ons vind dat munisipale poste aan vriende en kennisse gegee word wat nie aan die minimum wetlike vereistes voldoen nie,” sê Eugene van Aswegen, AfriForum se provinsiale koördineerder vir KwaZulu-Natal.

AfriForum het onlangs ’n appèlhofsaak met koste teen die eMadlangeni Plaaslike Munisipaliteit gewen nadat dié munisipaliteit geweier het om aan die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting, 2000 (Wetno. 2 van 2000) (PAIA) gehoor te gee. AfriForum sal oorweeg om die hof weer te nader indien uMhlathuze ook hierdie versoek weier.
AfriForum word telkens deur fluitjieblasers gekontak wat onbehoorlike indiensneming rapporteer en nooi graag die publiek uit om enige korrupte aktiwiteite aan die burgerregte-waghond te rapporteer.
Ondersteun AfriForum om jou gemeenskap te help: SMS jou naam na 45267 (R1).
 

Soortgelyke plasings