AfriForum versoek uMfolozi- munisipale bestuur se kwalifikasies asook tenderdokumente


AfriForum het die uMfolozi Munisipaliteit versoek om bewyse aan die burgerregte-organisasie te verskaf dat dié munisipaliteit se senior bestuur aan die minimum kwalifikasievereistes voldoen soos deur die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Finansiële Bestuur, 2003 (wet no. 56 van 2003) vereis word. AfriForum het ook tenderdokumente versoek van ’n kontrak wat al vir n geruime tyd sloer.

“Plaaslike munisipaliteite word dikwels gebruik om poste aan vriende en kennisse beskikbaar te stel wat nie noodwendig aan die minimum wetlike kwalifikasievereistes voldoen nie. Ons vind ook dat hierdie ongekwalifiseerde persone dan binne daardie poste eers op kursusse gestuur word – op belastingbetalers se onkoste. Dít terwyl daar in baie gevalle reeds mense met die nodige kwalifikasies is wat uit die staanspoor aangestel kon geword het,” sê Eugene van Aswegen, AfriForum se provinsiale koördineerder vir KwaZulu-Natal.

AfriForum het onlangs ’n suksesvolle appèlsaak met koste teen die eMadlangeni Plaaslike Munisipaliteit gewen nadat dié munisipaliteit geweier het om aan die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting, 2000 (wet no. 2 van 2000) (PAIA) gehoor te gee. AfriForum sal dit oorweeg om die hof weer te nader indien die uMfolozi munisipaliteit die versoek sou weier.
AfriForum kry gereeld inligting van fluitjieblasers wat onbehoorlike indiensneming rapporteer en ons nooi die publiek om enige korrupte bedrywighede by www.stopkorrupsie.co.za aan te meld.
Ondersteun AfriForum om jou gemeenskap te help: SMS jou naam na 45267 (R1).

Soortgelyke plasings