|

AfriForum versoek regspan om by tradisionele leierskapsaak betrokke te raak

AfriForum het sy regspan vandag opdrag gegee om by die tradisionele leierskapsaak van die Barolong Boo Seleka tradisionele raad van Thaba ’Nchu, naby Bloemfontein, betrokke te raak.

Dit kom nadat Ace Magashule, vorige premier van die Vrystaat, op grond van ‘n verslag van die kommissie vir tradisionele leierskapdispute en -eise, besluit het om die leierskap van die regerende koningshuis van die Seleka Barolong, wat oor ‘n tydperk van meer as 140 jaar strek, te beëindig.

“Tradisionele leierskap is ‘n kernelement van ons kultuuridentiteit en gemeenskappe kan nie bekostig dat dit deur politieke inmenging ondermyn en afgetakel word nie. Daar is nie behoorlik met ons as die regerende koninklike familie geraadpleeg nie, en soos ons vandag hier sit weet ons nie wat die toekoms vir ons inhou nie. Dit is vir ons werklik hartseer dat ‘n koninklike familie met so min respek deur regeringsamptenare behandel word”, sê prinses Gaboilelwe Moroka (Motshabi), woordvoerder vir die koninklike familie.

“Tradisionele rade is gemeenskapsinstellings wat ‘n baie belangrike rol speel binne gemeenskappe in Suid-Afrika. Daar kan nie toegelaat word dat hierdie instellings ook verlam word deur patronaatskap wat al soveel nadelige gevolge vir burgers van ons land veroorsaak het nie” sê Barend Uys, hoof van navorsing en ontwikkeling by AfriForum, en ook gemoeid met interkulturele samewerking by die organisasie.

Volgens Uys het Afrikaners en die Seleka Barolong ‘n baie lang geskiedenis van goeie verhoudinge en samewerking. Dit het in 1836 begin met die hulp wat Opperhoof Moroka II aan Hendrik Potgieter en sy trekgeselskap verleen het nadat dié geselskap deur ‘n mag van die Ndebele van Koning Mzilikazi Khumalo aangeval is.

Uys sê AfriForum beywer hom om dit vir Afrikaners moontlik te maak om in vreedsame naasbestaan met ander gemeenskappe vry, veilig en voorspoedig aan die suidpunt van Afrika te kan voortbestaan. “Daarom vorm ons op ’n grondslag van wedersydse erkenning en respek vennootskappe met ander gemeenskappe binne suidelike Afrika.

“Ons is ook tans besig om te werk aan die formalisering van ’n verstandhoudingsooreenkoms van wedersydse kulturele erkenning en samewerking tussen dié Afrikaners wat met AfriForum assosieer en dié Zoeloes wat deur koning Goodwill Zwelithini verteenwoordig word.”

 

 

Soortgelyke plasings