| | |

AfriForum versoek redes vir hardhandige hantering van lede van die toerismebedryf tydens vreedsame protes

AfriForum het vandag ’n skrywe aan lt.genl. Yolisa Matakata, Wes-Kaapse polisiekommissaris, gerig waarin die organisasie redes versoek vir die onnodige hardhandige hantering van lede van die toerismebedryf. Die organisasie is geskok oor die brutale en hardhandige hantering van dié lede wat vandag in Kaapstad aan ’n vreedsame betoging deelgeneem het. Die SAPD het protesgangers met ’n waterkanon gespuit, asook met traangas- en knalgranate uiteengejaag.

Volgens Clinton Lerm, ’n rolspeler in dié bedryf in die Wes-Kaap, het die deelnemers gesigmaskers gedra en ’n sosiale afstand van ten minste 1,5 m gehandhaaf en vreedsaam betoog. “Die protesoptog was deel van ’n landwye aksie wat rolspelers in die toerismebedryf van stapel gestuur het om hul bekommernis uit te lug oor die dramatiese uitwerking wat die drakoniese inperkingsmaatreëls op dié bedryf het.”

“AfriForum beskik oor verskeie foto’s en beeldmateriaal van die onnodige hardhandige optrede van die SAPD in Kaapstad. Kaapstad is tans onder beleg met gewelddadige politieke onrus wat oral in die stad uitbreek waartydens onskuldige mense se lewens bedreig en eiendom beskadig word. In plaas daarvan om aandag hieraan te skenk, verkies die SAPD eerder om hulle daarop toe te spits om onskuldige en vreedsame mense wat ’n sagte teiken is, met onnodige geweld te hanteer,” sê Thomas van Dalen, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid vir die suidstreek.

Soortgelyke plasings