AfriForum versoek Nersa om te weier om Eskom-korrupsie te befonds


Eskom se massiewe korrupsie en ondoeltreffendheid kan eenvoudig nie verder deur verbruikers befonds word nie. Dít was AfriForum se standpunt op 14 Mei 2018 tydens die burgerregte-organisasie se voorlegging by die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) se laaste openbare sitting in Midrand rakende Eskom se jongste tussentydse tariefaansoek. Eskom wil R67 miljard deur middel van verhoogde elektrisiteitstariewe van die publiek invorder.
Morné Mostert, hoof van plaaslikeregeringsake by AfriForum, het in sy voorlegging aangevoer dat Eskom in die verlede onder korrupsie, bedrog en wanbestuur deurgeloop het.

“AfriForum het in sy voorlegging gefokus op wat Eskom volgens wetgewing van die verbruiker mag verhaal, wat slegs geregverdigde kostes insluit. Die kostes wat op die Medupi-, Kusile- en Ingula-kragstasie oorskry is, kan toegeskryf word aan onreëlmatige, ongemagtigde, verkwistende en vrugtelose uitgawes. Dit is ook in stryd met die Wet op Openbare Finansiële Bestuur en dus geensins geregverdig nie.”

Mostert het voorts aangevoer dat Eskom eers sy eie sake in orde moet kry en te veel mense in diens het wat oor die algemeen te veel betaal word.

“Die gemiddelde salaris by Eskom is meer as R700 000 per jaar. Tussen 2007 en vanjaar het die aantal personeel met sowat 50% (van 32 000 tot 48 000) gegroei, terwyl die hoeveelheid opgewekte krag min of meer dieselfde gebly het.”

Nersa gaan AfriForum se kommentaar in sy besluit oor Eskom se moontlike tariefverhogings oorweeg.

“Ons sal voortgaan om te verseker dat Eskom nie die publiek met die koste van sy selfgeskepte krisisse opsaal nie en veg vir ’n beter kragbedeling in Suid-Afrika,” sluit Mostert af.

Soortgelyke plasings