AfriForum versoek minister Pandor om ambassadeur Zindzi Mandela ná verdelende Twitter-boodskappe af te dank


Die burgerregte-organisasie AfriForum het in ’n skrywe aan die minister van internasionale betrekkinge en samewerking, dr. Naledi Pandor, versoek dat die Suid-Afrikaanse ambassadeur in Denemarke, Zindzi Mandela, teruggeroep en afgedank word. Dít volg na ’n reeks uiters verdelende, rassistiese Twitter-boodskappe wat Mandela gister (14 Junie 2019) onder andere met die hutsmerk “OurLand”, gestuur het.

Volgens Alana Bailey, adjunk-uitvoerende hoof van AfriForum verantwoordelik vir internasionale skakeling, is ’n ambassadeur se plig om al die inwoners van die land wat hom of haar aanwys, te verteenwoordig, hulle belange sonder guns of vooroordeel te bevorder en vir almal ’n voorspraak te wees. Daarby moet hy of sy die beeld van ’n gesonde en verenigde land uitdra om politieke vennote en beleggers se vertroue te wen.

“Met haar Twitter-boodskappe het Mandela bewys gelewer van ’n haatdraende houding jeens wit inwoners van die land en het sy in die openbaar bygedra tot die verdeeldheid van plaaslike gemeenskappe. Haar valse bewerings en vernederende beskrywings soos cowards en land thieves dra by tot die bou aan ’n gevaarlike diskoers van sondebokskepping. Haar verweer dat sy geregtig is op haar persoonlike opinie, toon ’n algehele gebrek aan insig in haar verantwoordelikheid in haar pos. Dit strook ook glad nie met die land se grondwet wat onomwonde verklaar dat die land aan almal behoort nie. Die vraag is dus wie se belange sy verteenwoordig en hoeveel werk nodig sal wees om die verhoudings- en reputasieskade wat sy nou deur haar optrede veroorsaak, te bestuur.”

Bailey noem dat Suid-Afrika se internasionale reputasie die afgelope jare groot skade gely het weens die optrede van diplomate in die buiteland en die land se amptelike standpuntinname betreffende verskeie menseregtekwessies in die buiteland. Met die aanstelling van Dr. Pandor het die hoop internasionaal herleef dat die departement van internasionale betrekkinge en samewerking hierdie reputasieskade sal probeer omkeer.

“Die wyse waarop die minister ambassadeur Mandela hanteer, sal aandui of dié hoop geregverdig is,” sê Bailey.

Soortgelyke plasings