AfriForum versoek kettingwinkels om sélf listeriose in die kiem te smoor

 

Die burgerregte-organisasie AfriForum het gistermiddag die uitvoerende hoofde van elke groot kitskoskettingrestaurant en supermarkkettingwinkel in Suid-Afrika via ’n skrywe dringend versoek om sélf hul kos teen listeriose te toets alvorens dit aan verbruikers verkoop word.
Dié stap volg nadat die departement van gesondheid ná meer as ’n week ná die aankondiging van die ernstige listeriose-uitbraak steeds geen aksieplan bekend gemaak het nie, hoewel hulle besig is met ’n ondersoek daarna. Dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, sê dat die waarskynlikste oorsaak die besoedeling van kos is – waarskynlik by plase en voedselverwerkingsaanlegte.
Dié lewensgevaarlike bakterie het reeds vanjaar die lewe van nagenoeg 36 mense in Suid-Afrika geëis uit die sowat 557 laboratorium-bevestigde gevalle. Laasgenoemde is blykbaar agt keer hoër as die jaarlikse aantal bevestigde gevalle.

“Ons het die onderskeie kettingwinkels skriftelik versoek om dringend aksie te neem om verbruikers sover moontlik teen listeriose te beskerm. Listeriose kan behandel word mits dit vroegtydig by ’n persoon gediagnoseer word. Dit kan ook voorkom word indien voorsorgmaatreëls getref word. Kettingwinkels word verder versoek om verbruikers oor listeriose en voorkomingsmaatreëls ingelig te hou,” sê Marcus Pawson, hoof van omgewingsake by AfriForum. Die skrywe is ook aan dr. Motsoaledi gestuur.

 

Soortgelyke plasings