| |

AfriForum versoek internasionale media om oor toename in plaasmoorde te berig

AfriForum het ’n beroep op die internasionale en buitelandse media gedoen om oor die toename in plaasmoorde en -aanvalle in Suid-Afrika verslag te doen. Dit volg nadat verskeie internasionale en buitelandse media groot blootstelling gegee het aan ’n valse bewering dat Suid-Afrikaanse plaasmoorde tans die laagste in die afgelope 20 jaar is.

Die nuutste statistieke wat deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) gepubliseer is, dui egter daarop dat plaasaanvalle sedert 2011 stelselmatig aan die toeneem is, terwyl plaasmoorde sedert 2015 skerp gestyg het.

*Bron: SAPD

Die foutiewe bewering dat plaasmoorde tans die laagste in 20 jaar is, spruit uit ’n verslag wat in 2018 gepubliseer is. Die outeurs van die verslag het gemeld dat syfers wat deur die SAPD aan hulle verskaf is as bron gebruik is. Ná publikasie van die verslag is die syfers wat daarin vervat word egter vinnig as onjuis ontmasker. Intussen het die bewering dat plaasmoorde na aanleiding van dié verslag tans op ’n laagtepunt is egter wye blootstelling in die internasionale media geniet. Die foutiewe statistieke is in The New York Times, The Washington Post, Foreign Policy, The Guardian, op ABC News en verskeie ander internasionale en buitelandse mediaplatforms gepubliseer. Dit het ook wye blootstelling in die Suid-Afrikaanse media geniet.

Intussen het die outeurs van die verslag sélf toegegee dat die syfers – wat so wyd internasionaal en plaaslik gepubliseer is – foutief is.

Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, sê dat plaasmoorde ’n ernstige krisis is wat nie die nodige aandag van die Suid-Afrikaanse regering en die media geniet nie.

“Die debat oor die statistiek is belangrik en dit móét die nodige aandag kry. Ons moet egter daarteen waak dat dit ’n blote akademiese debat word, wat tot gevolg het dat die pyn van die slagoffers in die proses geïgnoreer word.”

Soortgelyke plasings