| | |

AfriForum versoek dringende ingryping by kwarantynfasiliteit

AfriForum het pas ’n dringende prokureursbrief aan die betrokke owerhede gerig namens ’n groep Suid-Afrikaners wat tans in die Peermont Metcourt Hotel in kwarantyn is. Dié groep is meegedeel dat hulle die volgende 14 dae in kwarantyn in die hotel moet deurbring ten spyte van regulasies wat op 17 Julie 2020 gepubliseer is wat die opsie van selfisolasie moontlik maak. Die groep het ernstige klagtes oor die toestande in die hotel en daar word gevra dat hulle toegelaat word om self te isoleer, of indien hulle verkies om in kwarantyn in ’n staatsfasiliteit te bly, dat hulle in ’n fasiliteit gehuisves word wat aan die nodige veiligheid- en higiëniese standaarde voldoen.

Volgens Sue-Ann de Wet, AfriForum se bestuurder van diasporaskakeling, handel klagtes wat AfriForum ontvang het dat:

  • Kamers en beddegoed vuil is (sien foto’s aangeheg);
  • Geen skoonmaakmiddels vir kamers voorsien is nie;
  • Bloedvlekke op bedlinne voorkom;
  • Geen wasgoeddiens gelewer word nie;
  • Insekte in hulle beddens gevind is;
  • Etes onreëlmatig voorsien word. Op 20 Julie byvoorbeeld is ontbyt om 08:00 en middagete om 16:00 bedien, wat veral kinders en bejaardes uiters honger en angstig gelaat het;
  • Voedselgehalte twyfelagtig is;
  • Kommunikasie ongeskik is;
  • Antwoorde op vrae laat of glad nie ontvang word nie;
  • Aankondigings via die interkom dikwels onhoorbaar is;
  • Elektriese toerusting soos haardroërs en TV’s nie in ’n werkende toestand is nie;
  • Onduidelikheid heers oor veiligheidsmaatreëls ná ’n persoon in die fasiliteit blykbaar positief getoets het.

“Die feit dat mense steeds aan hierdie soort toestande blootgestel word terwyl ruimte vir selfisolasie nou bestaan, is onaanvaarbaar en AfriForum sal alles moontlik doen om seker te maak dat die gerepatrieerdes se regte beskerm word,” sê De Wet.

  • Lees die mediaverklaring oor kwarantynregulasies hier.

Soortgelyke plasings