| |

AfriForum versoek dringende ingryping by kwarantynfasiliteit in Durban

AfriForum rig vanoggend ’n dringende skrywe aan die betrokke owerhede namens ’n groep Suid-Afrikaners wat tans in Coastlands, ’n hotel in Durban, in kwarantyn is. Die sowat 160 mense is deel van ’n groep wat per skip in die hawe aangekom het. Hulle is veronderstel om die volgende 14 dae in die hotel in kwarantyn te bly. Die owerhede word versoek om die groep so gou as moontlik na ’n ander fasiliteit oor te plaas of om hulle toe te laat om vir die oorblywende dae van hul kwarantyntydperk te selfisoleer.

Volgens verskeie klagtes wat AfriForum ontvang het, is die hotel glad nie skoon nie. Lede van die groep noem dat hulle gesondheid nie gemoniteer word soos wat kwarantynfasiliteite veronderstel is om te doen nie en dat hulle ook nie drie maaltye per dag kry nie. Verder berig hulle dat hulle glad nie veilig voel nie. Vroeër is aan hulle genoem dat hulle na ’n ander fasiliteit oorgeplaas sou word, maar daarna is bevestig dat dit nie sal gebeur nie.

AfriForum het op 4 Junie 2020 dringende hofstukke uitgereik om onder meer te versoek dat alle mense wat uit die buiteland terugkeer, die reg moet hê om hulleself te isoleer. Dit is tans die standaardpraktyk in die meeste ander lande. In Suid-Afrika dring die staat egter aan dat mense wat uit die buiteland terugkeer in staatsfasiliteite moet bly en telkens duik probleme op met fasiliteite wat nie aan die vereistes vir kwarantyn voldoen nie, asook ander kwessies soos onbevredigende etes en probleme met die verkryging van mediese hulp vir die teruggekeerdes.

Volgens Alana Bailey, hoof van kultuursake by AfriForum, word die mense deurentyd gehelp waar moontlik, maar ten spyte van herhaalde regsaksie en mediadruk, hou die probleme nie op nie.

“Dit voel asof ons heeltyd pleisters op ’n stukkende stelsel plak, in plaas daarvan dat ’n volhoubare en sinvolle oplossing gevind word. Iemand kom uit ’n slegte fasiliteit, of kry mediese hulp, maar dan volg die volgende krisis elders en dan begin die proses weer van voor af. Mense word teen hulle sin en dikwels onder ongerieflike of selfs gevaarlike omstandighede in kwarantyn gehou en boonop moet belastingbetalers hiervoor opdok, terwyl hulle meestal in hul eie fasiliteite en op hul eie onkoste kon selfisoleer. Coastlands is die soveelste voorbeeld in dié verband. Ons hoop dat die hofsaak ons sal help om ’n oplossing te vind wat die belange en veiligheid van al die betrokkenes sal verseker,” sê Bailey.

Soortgelyke plasings