AfriForum versoek dat polisiekommissaris Malema se aanhitsing tot plaasmoorde ondersoek


Die burgerregteorganisasie AfriForum het ʼn formele versoek ingedien by die nasionale polisiekommissaris, generaal Khehla Sitole, om aantygings te ondersoek wat gemaak is deur ʼn lid van ʼn berugte tronkbende dat Julius Malema, die leier van die EFF, hom gaan sien het in die tronk om die pleeg van plaasmoorde aan te moedig.
In ʼn opgeneemde onderhoud tussen ʼn agent van die nasionale intelligensie-eenheid en ʼn generaal in die 28’s-tronkbende, voer die bendeleier aan dat Malema gesê het dat hy ʼn span sal saamstel en balaklawas, wapens en geld aan hulle sal voorsien om plaasmoorde te pleeg. Die klankgreep is in 2017 uitgesaai op die ondersoekende aktualiteitsprogram, Carte Blanche.
Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, het erken dat daar moontlike uitdagings sal wees in die ondersoek van só ʼn klag. “Ons voer egter aan dat inaggenome die hoë voorkoms van plaasmoorde, dit in die publiek se belang is dat hierdie aantygings ernstig opgeneem moet word,” het Roets gesê. ʼn Eksemplaar van die boek Kill the Boer is ook aan die nasionale polisiekommissaris voorsien vir verdere agtergrond in die aangeleentheid.
Roets het verduidelik dat hierdie ʼn saak van ernstige kommer is vanweë die feit dat Malema nie die moeite gedoen het om hierdie aantygings, wat gepubliseer is vir die hele land om sien, te weerlê nie.
Roets sê dat hulle die saak sal opvolg by die nasionale polisiekommissaris.

Soortgelyke plasings