|

AfriForum versoek afdanking van Unisa-dosent vir geslags- en rasgebaseerde aanval op UK-professor

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag ’n brief aan dr. Mandla Makhanya, vise-kanselier van Unisa gerig om die afdanking te versoek van die Unisa-dosent Muhammad Zakaria Asmal, oor sy geslags- en rasgebaseerde aanval op sosiale media teenoor ’n vroulike professor, Nicoli Nattrass, van die Universiteit van Kaapstad (UK). Asmal is ook ’n PhD-student aan die Universiteit van Kaapstad.

Asmal het op 24 Junie 2020 die volgende op Facebook gesê onder die sosialemedianaam “Zax Asmal”:

“Nicoli Natrass is a dumb ass white bitch who is uglier than her dog.”

Hy sê voorts:

“In conclusion, I’m not sure whether Im [sic] more offended by the sickening ugliness of Natrass which is substantial..or her dog..”

“AfriForum glo hierdie vlak van geslagsgebaseerde liggaamsbespotting, wat ook rassisties van aard is, is laakbaar. Die gedagte dat mnr. Asmal gesag het oor studente by ’n onderriginstelling, terwyl hy vroue met diere vergelyk wat hul voorkoms aanbetref, is kommerwekkend. As burgerregtewaghond is AfriForum dus genoodsaak om in hierdie saak betrokke te raak en ons eis mnr. Asmal se afdanking,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

Van Zyl sê ook mnr. Asmal se aanmerkings is walglik.

“Hierdie soort aanval kan nie deur enige onderwysinstelling toegelaat word nie en AfriForum versoek dus dat Unisa dringende en daadwerklike aksie neem teen mnr. Asmal vir sy onaanvaarbare ras- en geslagsgebaseerde aanval op prof. Nattrass. Ons vertrou dat Unisa die nodige ernstige stappe sal doen teen mnr. Asmal oor sy neerhalende aanmerkings,” sluit van Zyl af.

Soortgelyke plasings