|

AfriForum-verslag wys ongrondwetlikheid van NGV uit

Artikel 27 van die Grondwet maak net voorsiening vir toegang tot gesondheidsorg. Dit meld nêrens dat die staat verplig is om gesondheidsorg aan almal te voorsien nie. Trouens, as die regering se inmenging hierdie toegang verhinder, is dit ongrondwetlik.

Só het Natasha Venter, AfriForum se woordvoerder vir NGV, vandag tydens die bekendmaking van AfriForum se verslag oor die ongrondwetlikheid van nasionale gesondheidsversekering (NGV) in Suid-Afrika gesê.

Dié verslag verduidelik waarom die impakstudie waarop die NGV gegrond is, totaal misleidend en ontoereikend is en die wetsontwerp dus tersyde gestel moet word.

Luidens AfriForum se verslag gee die regering se NGV-impakstudie nie al die nodige inligting om aan die publiek te bewys dat NGV nie finansieel haalbaar is nie en word die publiek mislei oor die werklike aard en gevolge daarvan.

Volgens Venter wys die verslag ook daarop dat die NGV-impakstudie ’n gebrek aan neutraliteit, balans en intellektuele eerlikheid het. “Wanneer ’n mens die huidige toedrag van sake in die gesondheidsdepartement oorweeg, het die staat beslis nie die kapasiteit om gesondheidsdienste aan almal in die land te verskaf nie.”

Venter het voorts ook verskeie ongerymdhede uitgewys tydens die NGV-openbare vergaderings wat die afgelope maand in Mpumalanga, Limpopo en die Noord-Kaap gehou is. “Plaaslike AfriForum-takverteenwoordigers wat dié vergaderings bygewoon het, het gesê die parlementslede het ‘pro-NGV’-pamflette uitgedeel wat gepoog het om lede van die publiek te probeer oortuig eerder as om hulle in te lig en aan te moedig om aan die proses deel te neem. Voorts het sekere verhore slegs in Zoeloe plaasgevind, terwyl datums en lokale sonder die nodig kennisgewings verander is.

Sy sê die regering blameer die privaat gesondheidsbedryf vir die swak gehalte van gesondheidsorg wat die staat bied, terwyl diegene wat hulself aan staatsinmenging en wanbesteding skuldig maak die werklike sondebokke is. “Mediesefonds-verbruikers betaal belasting wat deur die departement van gesondheid wanaangewend word en dan neem die regering hulle nog kwalik omdat hulle privaat mediese dienste op hul eie onkoste aanskaf. Die regering se oorregulering van die sektor is die rede waarom privaat mediese sorg só duur is.”

Die burgerregte-waghond gaan daarom ook strafregtelike klagtes teen al nege provinsiale departemente van gesondheid indien ingevolge Artikel 86(1) van die Openbare Finansiëlebestuurswet, 1999 (Wetno. 1 van 1999).

Luidens hul jaarverslae is hierdie nege departemente almal skuldig aan onreëlmatige, vrugtelose, verkwistende en ongemagtigde besteding, met altesaam meer as R5,8 miljard se verkwisting in die 2017/2018 finansiële jaar. Die eerste klagtes teen die Gautengse hoof van die gesondheidsdepartement is ook vandag ingedien. Dié departement het byna R1,4 miljard in die 2017/2018 geldjaar wanbestee.

Benewens die klagtes gaan die organisasie ook volgende jaar ’n voorlegging aan die parlementêre portefeuljekomitee vir gesondheid in die parlement voorlê.

Monique Taute, AfriForum se hoof van veldtogte, sê die organisasie is daarvan oortuig dat die voorgestelde NGV-skema polities gemotiveer is en dat dit nie die gesondheidsuitkomste van die armstes en kwesbaarste lede van die samelewing wesenlik sal verbeter nie.

Sy het ook daarop gewys dat die regering se onlangse stigting van ’n teenkorrupsieforum vir gesondheidsorg, verdere bewyse is van die enorme omvang van korrupsie en wanbesteding in die gesondheidsdepartement.

“AfriForum hoop dat hierdie forum daadwerklik sal optree in die hantering van hierdie klagtes, asook die uitwissing van ander korrupsie en bedrog in hierdie departement.”

 

Soortgelyke plasings