|

AfriForum-verslag: Heelwat ruimte vir verbetering by Gautengse munisipaliteite

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag sy ontleding van Gautengse munisipaliteite vir 2019 uitgereik. Midvaal se munisipaliteit het die beste presteer met ’n telling van 7,5 uit 10, terwyl Johannesburg en Tshwane se metro onderskeidelik 6,5 en 7 behaal het.

“Die Midvaal-munisipaliteit het die afgelope paar jaar skoon oudits van die ouditeur-generaal (OG) ontvang en daarmee bewys dat hulle met hul inwoners se geld vertrou kan word. Dié munisipaliteit spog ook met lae werkloosheid en bevredigende dienslewering. Hoewel daar ruimte vir verbetering is, verdien hulle die status as beste munisipaliteit in Gauteng,” sê dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum.

Volgens Brink is daar egter ook heelwat munisipaliteite wat swak presteer het. Emfuleni – wat Vereeniging en Vanderbijlpark insluit en langs Midvaal geleë is – se OG-oudit kon nie eers voltooi word nie omdat van die nodige dokumentasie ontbreek het. Die verslag bevind ook dat die Merafong City Munisipaliteit, wat Carletonville insluit, se swak dienslewering, tekort aan werksgeleenthede en wanbesteding van fondse inwoners noop om uit die gebied weg te trek, wat die munisipaliteit se status nog meer sal versleg.

Brink lig ook goeie aspekte in dié verslag uit.

“Gauteng is ’n welvarende provinsie met meer waghondorganisasies, wat die munisipaliteite se prestasies natuurlik positief beïnvloed. Aspekte soos behuising, onderwyspeil, drinkwater en toegang tot elektrisiteit is oor die algemeen baie sterker as in die meeste ander provinsies. Meer as ’n kwart van die land se bevolking woon en werk ook in Gauteng, en dié getalle gaan in die toekoms bly toeneem. Munisipaliteite en die provinsie sal beter daarvoor moet beplan en voorsiening maak.”

Brink beklemtoon dat misdaad en werkloosheid steeds groot probleme in Gauteng is, soos die ander provinsies ook ondervind.

“Hoewel nie alles in Gauteng sleg is nie, is verbetering op verskeie vlakke beslis noodsaaklik.”

Ontledings oor Noordwes en die Wes-Kaap sal op hierdie verslag volg. AfriForum sal dié verslae gebruik om al die munisipaliteite in Suid-Afrika te moniteer en verantwoordbaar te hou.

Klik hier vir die verslag.

Soortgelyke plasings