AfriForum verskaf hulp om blitspatrollie weer operasioneel te kry


AfriForum Gemeenskapsveiligheid het hulp gebied aan lt. genl. Liziwe Ntshinga, provinsiale polisiekommissaris van die Oos-Kaap, nadat die plaaslike media berig het dat die Mdantsane-blitspatrollie nie oor ’n enkele operasionele voertuig beskik nie.
Die berig meld dat al dié eenheid se voertuie tans weens meganiese foute onbruikbaar is.
AfriForum het met die provinsiale kommissaris geskakel om vas te stel hoe en tot watter mate die burgerregte-organisasie hulp kan verleen om die situasie op te los, en wag tans vir haar terugvoer.

“Ons kan nie bekostig dat ’n waardevolle eenheid soos dié blitspatrollie nie operasioneel kan wees nie. Die Oos-Kaap het een van die hoogste misdaadsyfers en het in 2017 die derde hoogste moordsyfer getoon,” sê Johandré van Zyl, AfriForum se streeksveiligheidskoördineerder vir die suidstreek.
“Hoewel die gemeenskap ’n belangrike rol het om in die bekamping van misdaad te speel, moet die SAPD as primêre rolspeler ook in ’n posisie wees om hul grondwetlike mandaat te kan vervul,” sluit Van Zyl af.

Soortgelyke plasings