--> -->
Spyskaart +

AfriForum verskaf droogtehulp aan boere in die Vrystaat en Noordwes

September 8, 2016 deur Mariska Batt

AfriForum het vandag 115 ton se droogtevoer aan talle boere in die Vrystaat en Noordwes geskenk. Dié skenking is moontlik gemaak deur bydraes van die publiek en donasies van twee Nederlandse organisasies, Woord en Daad en Hulp bij Bijzondere Noden. Dit bring die totale hoeveelheid voer wat tot op hede aan boere in nood verskaf is op 200 ton te staan.

“Die breër Suid-Afrikaanse publiek moet besef die droogte is nie verby nie en dat talle boere steeds op die punt staan om hul plase te verloor. Die publiek se ondersteuning is uiters belangrik,” sê Henk Maree, AfriForum se nasionale woordvoerder.

Die skenking volg nadat AfriForum vroeër vanjaar aangekondig het dat die organisasie ’n veldtog van stapel gaan stuur wat daarop gaan fokus om boere wat swaarkry van hulp te voorsien. Boere wat tans van hulp voorsien word, het AfriForum met hul onderskeie behoeftes genader.

“Die sukses van die aksies sou nie moontlik gewees het sonder die hulp van Weideman Voere nie. Danksy dié produsent kon ons baie meer voer verskaf as wat aanvanklik beplan is,” sluit Maree af.

Die publiek kan betrokke raak deur hul naam na 38312 te SMS. Elke SMS sal ʼn R10-bydrae tot AfriForum se droogtefonds lewer.