AfriForum versigtig optimisties oor SAPD se beoogde aanwending van reserviste


AfriForum het met blydskap kennis geneem van die SAPD se voorneme om reserviste in te span om misdaad in plattelandse en afgeleë gebiede te bestry.

Die burgerregte-organisasie beywer homself al die afgelope twee jaar om die SAPD te verplig om reserviste as bykomende mannekrag te gebruik. ’n Aansoek, gedryf deur AfriForum, is op 3 April 2019 teen verskeie rolspelers in die SAPD in die Noord-Gautengse hoë hof aangehoor. ’n Bevel is teen die SAPD bekom om die geraakte reserviste vir die nodige opleiding te stuur sodat hierdie reserviste in die poel van bruikbare lede gevoeg kan word om misdaad te help bekamp.
Die SAPD het tot dusver geweier of gesloer om reserviste op te lei en bestaande beamptes vir heropleiding te stuur. Dít het daartoe gelei dat die reserviste nie in staat is om die SAPD na behore te ondersteun nie aangesien hulle nie kragtens wetgewing bevoeg is om onder meer vuurwapens te hanteer nie.
Weens die polisie se huiwering en versuim het die aantal polisiereserviste tussen 2010 en 2018 met 80% gedaal en ongeveer 60 000 lede het verlore gegaan vir diens aan die gemeenskap.

“Dit blyk of die SAPD moontlik gehoor gee aan AfriForum se pleidooie om van bestaande hulpbronne, waaronder die reserviste, gebruik te maak om sy misdaadbestrydingspogings te ondersteun. Dit is egter betreurenswaardig dat drastiese stappe deur die hof gedoen moes word om hierdie besef tuis te bring,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid.
“AfriForum word oorval met versoeke van geraakte reserviste en gemeenskapspolisiëringsforums regoor die land om hul behulpsaam te wees met soortgelyke aansoeke. Reserviste lewer dienste sonder om daarvoor vergoed te word. Al wat hierdie persone wil hê is om in staat gestel te word om ’n diens aan die gemeenskap te lewer,” sê Marnus Kamfer, AfriForum se regs-en-risikobestuurder vir gemeenskapsveiligheid.

Soortgelyke plasings