|

AfriForum verseker ’n groener toekoms met afskop van boomplantmaand

AfriForum het vanjaar boomplantmaand afgeskop deur sowat 600 swartkareebome aan AfriForum-takbestuurslede te skenk wat die organisasie se nasionale kongres in Warmbad bygewoon het.

Mense regoor die land vier boomplantdag op 1 September. AfriForum gaan egter die hele maand aan die plant van bome toewy.

Altesaam 130 AfriForum-takke beoog om landwyd meer as 2 000 bome deur die loop van die maand te plant.

Die burgerregtewaghond het sedert 2011 reeds meer as 7 000 bome geplant ter viering van boomplantmaand.

Vanjaar gaan hulle voort om ’n groener toekoms te verseker en moedig mense aan om inheemse bome wat in hul omgewing sal aard, te plant.

Die burgerregte-organisasie gaan vanjaar daarop fokus om die geelhoutboom (Suid-Afrika se nasionale boom) en die grootwitgatboom, wat skaars is, te plant.

Volgens Chris Boshoff, AfriForum se koördineerder vir omgewingsake, is die inisiatief deel van ’n poging om ’n groener toekoms vir nageslagte te verseker.

“Deur inheemse bome te plant, is ons nie bloot besig om die omgewing te bewaar nie, maar wys ons ook dat ons hoop vir die toekoms het. Ten einde Suid-Afrika te laat floreer, moet ons almal ons deel doen en voortgaan om te bou – tot voordeel van almal in die land,” sê Boshoff.

 

Soortgelyke plasings