|

AfriForum verleen hulp aan boere na verwoestende Vrystaat-brande

AfriForum Jeug se krag lê in gemeenskappe en dít wat ons kan vermag deur saam te staan. In tye van nood móét gemeenskappe hande vat.

Só meen Henk Maree, hoof van AfriForum Jeug, nadat die jeugvleuel vandeesweek ’n staptoer van ongeveer 70 km aangepak het om geld in te samel vir boere van Petrus Steyn en Reitz wie se grond afgebrand het nadat verskeie veldbrande in September verwoesting in die Vrystaat gesaai het.

Johan Breytenbach, hoofbestuurder van die Vrystaat se sambreelbrandbeskermingsvereniging (FSUFPA), sê die veldbrande is veroorsaak deur ’n gebreekte trekker wat ’n vonk gemaak het en die gras aan die brand gesteek het.

Die brande het groot skade in die provinsie veroorsaak en sowat 7 400 ha weiveld is vernietig.

Tussen Petrus Steun en Reitz het wegholveldbrande boere se voer vir hulle beeste vernietig.

“Meer as 4 000 diere is nou van voer afhanklik, en ongeveer 1 200 werksgeleenthede is in gedrang,” meen Maree.

Meyer le Roux, eienaar van Buffelsfontein Baard-Olie, het dié staptoer uitgedaag en terselfdertyd ’n motorfietstoer van 800 km afgelê om geld vir boere in dié gemeenskap in te samel.

Span Krygerspoor (AfriForum Jeug) en Span Ysterperde (Meyer le Roux) het sakeondernemings uitgedaag om die veldtog te ondersteun deur ’n bedrag per kilometer te borg.

AfriForum het ook R100 000 vanuit hul noodfonds geskenk om voer vir boere in dié gemeenskap aan te koop.

Pretoria FM se Klankkoerantspan het ook hulp aan dié boere verleen en vier kaartjies vir die opkomende toets tussen Suid-Afrika en Nieu-Zeeland op Loftus opgeveil. Benetrax Machinery het die kaartjies vir R11 000 gekoop – elke sent daarvan word aan hulpverlening vir die boere geskenk.

Soortgelyke plasings