AfriForum verkry nóg twee kostebevele op een dag teen Malema en EFF in Noord-Gautengse hoë hof


Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag in twee afsonderlike hofsake in die Noord-Gautengse hoë hof kostebevele teen Julius Malema en die EFF bekom. AfriForum het sedert Maart 2017 dus met inagneming van vandag se twee kostebevele reeds vyf kostebevele teen Malema en die EFF bekom.
Die eerste saak wat vandag in die hoë hof aangehoor is dié van minagting van die hof wat AfriForum teen Malema en die EFF voer omdat laasgenoemde voortgegaan het om grondgrype aan te moedig ten spyte van ’n staande interdik wat AfriForum bekom het om hulle te verbied om mense aan te hits om grond te beset. Die EFF en Malema se regspan het nie hul hoofde van betoog betyds ingedien nie, wat beteken dat die saak later aangehoor sal moet word. Hiermee het Malema en sy party hulself nóg ’n kostebevel op die hals gehaal.
In die tweede saak wat vandag aangehoor is, het die EFF en Malema probeer om ’n dringende hofbevel te kry om AfriForum te verhoed om EFF-eiendom te verwyder en op te veil om regskostes te verhaal. Regter Johan Louw het beslis dat die saak nie dringend is nie en het nóg ’n kostebevel teen die party toegestaan.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is die feit dat AfriForum sedert Maart 2017 reeds vyf kostebevele van sowat R550 000 teen die EFF en Malema bekom het ’n aanduiding dat hulle die regsproses misbruik in ’n poging om AfriForum te frustreer en aanspreeklikheid vir hul onwettige optrede te ontduik. “Malema en die EFF se pogings om verhewe bo die reg te wees, het nou geboemerang en die geld wat hulle nou aan AfriForum verskuldig is, sal gebruik word om onteiening sonder vergoeding en grondgrype in die howe te beveg,” voeg Kriel by.

Vandag se twee hofsake vloei voort uit die saak waarin die Noord-Gautengse hoë hof op 7 Maart 2017 ’n interdik met koste in AfriForum se guns toegestaan het. Hierin word Malema en die EFF verbied om mense aan te moedig om grond te beset. Malema en die EFF het daarna ’n tersydestellingsaansoek teen die interdik gebring, wat op 12 September 2017 aangehoor sou word. Die hof moes die saak egter uitstel nadat Malema en die EFF se hoofde van betoog laat ingedien is. Die regter het gevolglik ’n bestraffende kostebevel teen Malema en die EFF uitgereik. Met die hofverskyning in Februarie vanjaar het Malema en die EFF se regsverteenwoordigers nie opgedaag nie en die saak is in AfriForum se guns beslis, met die tersydestellingsaansoek wat met koste van die hand gewys is.

Kriel wys daarop dat Malema en die EFF gister (13 November 2018) ’n bedrag van R126 703,59 aan AfriForum oorbetaal het. Dit is egter volgens Kriel nie die einde van die pad nie, want hulle was reeds voor vandag se twee kostebevele ’n verdere bedrag van R211 005,09 vir verdere kostebevele aan AfriForum verskuldig. “Vandag se twee kostebevele beteken dat die EFF en Malema na raming ’n verdere bedrag van meer as R200 000 sal moet opdok,” sê Kriel.

Volgens Kriel sal AfriForum se regspan nou poog om die hangende saak van minagtig van die hof teen Malema en die EFF so spoedig moontlik voor die hof te kry.
 

Soortgelyke plasings